top of page

Lewensomstandighede van die Pioniers

1. Huise en geboue

 

Om in hierdie onherbergsame stuk halfwoestyn te land, en ‘n plaas uit niks uit op te bou, was

die lot van die eerste gesinne wat Rhodes in Ghanzi kom vestig het. ‘n Mens kan jou voorstel

dat die mense vir lank nog uit hul waens geleef en daarin moes geslaap het, want leeus en ander wilde diere was volop, want die laaste trek het direk na die reënseisoen aangekom, met Ghanzi se panne waarskynlik vol water. Elkeen se plaas was egter reeds vir hom uitgewys en hier moes die groepe van mekaar skei en hulle blyplekke begin ontwikkel.

 

Die eerste huise was tydelike geboutjies – dagha en houtlatte met grasdakke wat oor stoepe gehang het. In sommige gevalle was klei bo-oor die gras gesmeer om dit dig te maak. Die klem was op oorlewing, op jag en kos produseer, nie op uiterlikhede nie, veral nie op huise nie! Meeste van hierdie mense het steeds rondgetrek en aanvullende inkomste uit jag gekry, al het hulle nou ‘n plaas as basis gehad. Dis waarskynlik waarom daar teen 1905 net een gesin oorgebly het in Ghanzi, en dit was Johannes Jacobus Taljaard, ‘n wewenaar met sy kinders. As gevolg van die baie rondtrekkery van mense word net 13 wonings as huise aangedui op ene Stigand se kaart in 1922. Twee of drie huise het mure van kalkklip gehad, met binnemure wat gepleister was, maar die vensters was sonder glas met hortjies, die dakke van dekgras[1]. Die res was Afrika-inheemse hutte, en sommige het selfs rondom hulle waens winkel opgemaak.

 

Laterjare het mense hul eie roustene gemaak en gebak – Oom Jan Burger se huis op Rietbokpan waarin hy 16 jaar gewoon het[2], een myl van Chrisjan Lewis af was so beskryf.  Dit kan wees dat dit op Khoutsa was, waar vier plase om ‘n pan uitgegee is.

 

Oom Cassie van Heerden vertel van saamtrekke rondom Kersfees en ander geleenthede[3] en voeg dan by dat mense wat bv. hulp benodig het om ‘n huis te bou, ‘n briefie sou rondstuur. Dan kom baie bymekaar om fees te vier en in ‘n japtrap is die gebou klaar. Hy noem ‘n huis wat so gebou is vir onderwyser Weideman. Die mure is in twee dae gemessel, die timmerasie die derde dag, die vierde dag die dak. Dié huis was binne ‘n week voltooi.

 

Hugo Lemcke vertel van die eerste 2-vertrekhuisies, gebou soos wat die intrekkers kon[4] bekostig.  Dekgras is gebruik vir dakke. Hulle het Mopaniebome by Maun gaan kap vir balke, of Matjiara-bome[5].  Op die kombuisdak is bossies gepak met klei daarop gepleister.

 

Albert Lemcke was die “argitek” of beplanner van heelparty meer gevorderde geboue, sonder enige opleiding, behalwe “wat my oë van ander gesteel het.” Hy noem die kerksaal, die winkel op Kalkfontein, ‘n polisiehuis op Ghanzi, die twee huise op Sheldon se plaas. Beplanning het die bouwerk ingesluit, ook verbeterings aan heelparty huise. Hy het met roustene, later bakstene en ook met klip gewerk. Die plaashuis van Braam de Graaff, waar die Bowers nou woon, is gebou deur Braam de Graaff en Voorman en oom Dawid Goosen het bietjie gepleister. Wat die uitleg betref het dit afgehang van wat die eienaar kon bekostig.  Boonop was niemand seker of hy ooit sy lewe lank hier sou sit nie. Mense het gewoonlik een vertrekkie gebou en later aangebou. Soms twee vertrekke - die slaapkamer en die voorhuis. Later miskien’n kombuis of nog ‘n slaapkamer of ‘n stoep. Mense het nie die geld gehad om na hul sin of hul gerief te bou nie. Sement was onverkrygbaar, en dit was makliker om met klip te bou as om eers roustene te maak en te brand.

 

Tant Lena Lemcke het bygevoeg “Dit gaan nog so (in 1980) – As ek vir hom se, Albert, kyk hoe lyk ons huis,” is sy antwoord, “Ag een van die dae moet ons hardloop!”

 

Oom Thys Taljaard het vertel van die eerste huis op die sg. “Ou Dekar” werf wat sy pa Machiel self gebou het. Waar die klippe opgehou het, het hy verder met bakstene aangegaan. Die mure was 11 voet hoog onder die balk. Die balke was kiaathout, gesaag in die Okavango[6]. Die huis het ‘n grasdak gehad, met ‘n grasdakveranda. Later het Thys en sy broer lg. uitgemessel vir nog 2 slaapkamers met ‘n verandatjie tussenin. Toe die grasdak later ingee, het hulle ‘n sinkdak opgesit. Omdat Machiel self die klippe gekap het en die stene gebak het, het die bouproses 4-5 jaar geduur. Thys was al omtrent tien jaar oud gewees toe die huis eers klaar was.

 

Arbeiders vir bouwerk was ‘n probleem. In die beginjare was Boesmans te onervare en ook te swak om die groot klippe op te tel en bo-op die steier te sit. Machiel het die klippe ge”dress” met ‘n beitel en ‘n 4lb. hamer [7].

 

2. Die stryd om water

 

Water vir die huishouding was ‘n groot probleem. Omdat dit duidelik was dat die watertafel hier vlakker was as in die res van die Kalahari, het mense “putse gegrawe” al op die kalkrif waar op Ghanzi ontstaan het. Die eerste boorgat was eers in die 50er jare gesink.

 

Om die water uit die putte te kry was aanvanklik ook nie maklik nie! Meisies (soos Tant Lettie van Heerden) moes op ‘n emmer afsak in die put. Sy het beskryf hoe mens sit op so’n emmer, tou tussen bene, en jy hou vas! Jy bly dan onder tot daar genoeg geskep is, klim weer op emmer, en word boontoe uitgetrek![8] Arm mense het rol gedraai, en dan die water huistoe gedra. Die met geld het naderhand windpompe gehad. Tant Lettie het nog vertel dat sy juis daarom so kort was, as gevolg van die baie vier-gelling blikke wat sy op haar kop moes dra!

 

Badtyd was dus ook nie maklik nie en beslis nie vanselfsprekend nie. Eers moes water in seeppotte verwarm word, dan dra jy dit kamer toe, gooi in sinkbaddens, dra koue water aan, dra weer uit. Seuns, volgens Oom Kassie, het maar in die dam gewas in die somer, maar geweier om te bad in die winter!

 

Tuinmaak was moeilik, want water moes aangedra word (en die grond rondom die panne en putte was klipperig en nie geskik vir tuinmaak nie). Tannie Grieta Lemcke het vertel van haar ma, Lenie Lewis, se klein blomtuintjie, waaroor die kinders water vanaf die put moes aandra, 500 treë ver[9].  Iemand moes rol draai om water uit te haal. Grieta vertel van ‘n swart werker wat hulle gehad het wat met hoenderkraai opgestaan het, die koeie gemelk het en as die son opkom was hy reeds besig om die beeste te begin water gee met roldraai by die put!

 

Sannie Coetzee, Grieta se ousus, verduidelik hoe ‘n rol gewerk het[10]. ‘n Stomp word oor die put vasgemaak met ‘n slinger weerskante. Die slingers draai tegelyk maar so dat een emmer onder skep as die ander een bo is. Die vol emmer word dan bo uitgegooi in ‘n krip en om die beurt laat sak[11].

 

3. Windpompe en boorgate

 

Toe die 1899 intrekkers hul plase beset het, was dit blykbaar tydens ‘n goeie reënsiklus gewees, want sommige plase was rondom die panne uitgegee om die rede. Maar toe die normale droogtes opvolg en die panne opdroog was dit ‘n groot rede om die plase te verlaat tot 1905 toe meeste mense teruggekom het.

 

Veral plase al langs die kalkrif waarop Ghanzi-dorp gebou is, was geseënd met vlak grondwater en die oplossing was om putte te grou. Vir heelparty mense was dit later ‘n goeie inkomste, want verder suid en in Ngamiland het swartes met beeste betaal vir putte, en die Regering het ook vir putte betaal. Na 1966 was putte reeds in onbruik, maar dit was in die vroeë jare van groot waarde en word in baie vertellings genoem. Oom Jan Burger was bekend as ‘n swysame man. Sy bynaam was Semumu. In die tagtigerjare was hy al hoog bejaard en het min gesels. Iemand het hom probeer uitvra oor sy werk of bedrywe nadat hy die land ingekom het in 1918. Sy enigste gemompelde antwoord was, “Putse gegrawe”, en daarna net stilte van sy kant af. Dit was egter ‘n hoogs gelade antwoord, want dis duidelik uit sy verdere verduidelikings en die van ander pioniers dat dit ‘n hoogs tegniese bedryf was, moeisame, hard werk in warm son op waterlose plekke en dikwels baie gevaarlik. Sommige entrepreneurs het dit voordelig gevind, want veral suidwaarts kon hulle ook spekuleer met die beeste waarmee hulle betaal is, en so het menige van die eerste boere op die been gekom. Een voorbeeld is “Mr Burton”, wat later een van die leiers van Ghanziland was.

 

In ‘n onderhoud vertel Oom Jan Burger dat hy ook vir die Britse regering putte gegrawe het. Hy verwys na mnr. Midgeley, dus moes dit in die 50er jare gewees het want toe was hy die “D.C.” (District Commissioner)[12]. Die DC was so gretig om die taak klaar te kry dat hy Oom Jan ondersteun het deur self dadelik enige gebreekte steel te vervang bv. van ‘n hamer of ‘n pik.

 

Oom Jan was trots op sy vakmanskap. Toe hy op Rietbokpan gewoon het, naby Christiaan en Lenie Lewis, het hy 15 “putse gegrou”, maar onthou veral een wat hy vir Hardbattle gegrawe het tot, 75voet diep. Sy eie beskrywing vertel die inspanning die beste: “Daardie een het die Regering en oorlede ou Burton gesê waar ek moet grou. Oorlede oom Chrisjan, Albert en Magiel Petoors het gegrawe, maar toe hulle dryfsand kry na die kalklaag het hulle die puts gelos. Toe sê ek vir oorlede oom Chrisjan as hulle my iets gee sal ek daarmee beginne. Toe sê Mr. Burton waar ek moet grawe, maar hy het my net ‘n paar skote dinamiet gegee. Toe grawe ek deur die kalk en toe vir 43 voet deur stywe sand. Toe skiet ek twee skote, toe sien ek as ek aanhou gaan hy inval. Ek het my osse ook daar gehad, toe het ek blokke gesaag en hom uitgeblok tot bo. Ek moes drie mense laat kom om die sand uit te rol.  Ek het tot 75voet gegrawe, toe los ek hom, toe’t hy nie water nie ……”

 

Daar was meer ironie by die put. Bertie Adams het kom water soek vir sy perde maar oom Jan het sopas sy drom water uitgegooi. Hulle wou weet hoekom dan. Toe sê ek, ek het nie geweet hulle kom nie!” Na al die werk was hy haastig om huistoe te gaan![13]

 

Oom Cassie en tant Lettie van Heerden het mooi verduidelik hoe ‘n rol die water uit ‘n put gehaal het om beeste water te gee en sodat water huistoe gedra kon word. Vir die beeste was daar ‘n houtvoortjie vanaf die put tot in die krip, maar as daar min water was moes iemand met ‘n emmer aan die tou afsak en vol maak totdat daar genoeg was. Dan word die volmaker opgetrek aan die tou.  Lettie het self ook soms afgegaan en Cassie se die diepste wat hy van weet was 200vt. As hulle iewers wou heengaan het die seuns middernag gaan melk en die beeste water gegee!

 

In enkele gevalle was daar darem al windpompe ook, veral vir meer kapitaal kragtige boere. Oom Cassie het vertel dat Ronnie Kays se oupa die eerste windpomp op “Ghanzies” opgerig het. Ook oom Bobby Smit het ‘n windpomp gehad en oom Jan Marnewijck, Jannie se pa.  Die Burton broers het gevolg[14].

 

Tydens beestrekke waar daar nie ‘n rol was nie moes Cassie en sy geslag water deur middel van ‘n riem en emmers uit putte trek. Hulle het gewoonlik nie water op die trekpad gekoop nie, net mense gehuur om emmers te trek. Maar later by Kokong het hulle water by ‘n Indiër gekoop wat reënwater in ‘n dam opgegaar het.

 

Hugo Lemcke het vertel van ‘n putgrawery by Daggakamp, deur Fanie Lewis, Chrisjan Lewis snr., Magiel Petoors en Berend van Staden. Hulle het met behulp van dinamiet geskiet en toe het een kers nie mooi afgegaan nie totdat hulle weer geboor het! Oom Fanie se hand was beskadig deur hierdie onverwagte skoot[15].

 

Albert Lemcke het die land ingekom om putte gegrawe vir die Betsjoeanaland regering en vir Burton later en Hugo het hom gaan help[16]. Putgrawe was gespesialiseerde werk en vriende en bure het nie daarmee gehelp soos met die opsit van windpompe nie.

 

Hoe gawe ‘n mens ‘n put?  Albert Lemcke verduidelik mooi:

“Jy begin met die pik en graaf, van bo-af, so groot as wat jy hom wil hê, sê so 6vt. deursneë, totdat dit te hard word vir die pik. Daarvandaan moet jy maar boor en met ‘n staalboor wat jy moet skerpmaak. Jy hou hom met die hand en slaan met die hamer en draai dit gedurig tot so ‘n voet of drie of so diep as jy wil in die klip boor. Dan laai jy die gat: die doppies sit jy in die kerse, en die lont in die doppie. Dan gooi jy ‘n paar kerse in die gat dan druk jy hulle vas met die kers wat die doppie en lont in het, bo-op. Dan vul jy hom met sand en stamp hom vas. Maar in die begin moet jy nie te hard stamp nie, want die dinamiet kan ontplof. Later kan jy hard stamp tot die gat vol is. Dan steek jy die lont aan die brand en maak dat jy wegkom, anders vlieg jy in die lug! Jy soek maar ‘n wegkruipplek waar die klippies jou nie sal vang nie. Selfs as die put reeds diep is, gooi hy ook nog klippers bo uit! Die lont moet so lank wees as wat die put diep is, want dit vat ‘n rukkie voor jy uit is om te gaan “wegkruip!”

 

Oom Albert[17] het ook grafies verduidelik van wat met die lont kon gebeur as die gat reeds dieper was.  Grond is met ‘n rol verwyder voor ‘n gat weer gelaai is met dinamiet.

 

Ek het altyd ‘n tou, ‘n kettingtou, ook in die put laat sak. As die lont aangesteek is vat dit altyd ‘n paar minute voor die dinamiet ontplof, dan klim ek uit deur teen die wande vas te trap. As die ‘speul’ bo weghardloop van die put af is die enigste genade om daai lont uit te ruk voor hy ontplof. Die lont is vanself so ‘n kwartduim dik en in die middel deur is hy met kruit gevul tot by die doppie. As die lont brand hardloop hy met daai kruit af en brand tot hy die doppie aan die brand slaan. Dit brand deur die sand, selfs deur die water ook! Gewoonlik moet jy die lont in die water met kersvet smeer sodat hy dig is, by die doppie ook. Wat die kerse betref, of dit water of dra of lig is maak nie saak nie. As hulle die druk van die doppie kry slaan hulle so-by-so aan die brand. Die lont moet net nie nat wees nie.”

 

Oom Thys Taljaard het ook mooi beskrywings van hoe hulle putte gegrou het, selfs in sy pa Magiel se dae. Langs die ou pad oor Kuke staan bv. nog klippe van ‘n soort monument wat sy pa, Machiel gepak het van die granietklippe wat Thys van onder af uitgeblaas het. Volgens die Regeringskontrak moes die put 100vt. diep wees, behalwe as die water vlakker was. Vir water of diepte sou die Regering 100pond betaal.

 

Soos hulle gevorder het, het hulle dinamiet geskiet om die walle los te skud. Voor Oom Thys kon werk na die skoot, moes hy eers weer die walle vierkantig “blok”. Onder hom het sy ou “Hotnot” reggestaan met die houte[18].  “Daar glip die een hout en trek ek met daai klomp houte daar af, bo-op die ouman. My kop was die ene knoppe teen die walle. Die ou Hotnot se: “Ja, as ek jou nie gevang het nie, was jy dood!” Maar ek val hom heel toe! Gelukkig was die houte lank, hulle val so oor.”

 

Oom Thys Taljaard het vertel van die putte op ou Dekar, party nog met water onderin. In droë jare moes hulle die putte dieper oopskiet. “Daar is van daardie ou hardekool blokke in daai put wat my oorlede pa nog met sy ou hande daarin gesit het.”

 

Mens kan jou net probeer voorstel hoeveel harde werk ingegaan het in die kap van hardekoolblokke, kalkklip banke en dit sonder die implemente van vandag. Daarom was die putgrawers sekerlik baie dankbaar dat hulle mog dinamiet gebruik. Daar was soms byna ongelukke, maar niemand is dood as gevolg van dinamiet nie. Net by een put het Thys Taljaard tien kaste opgeskiet, ongeveer 4 pakke van 100 kerse in ‘n kas. Hulle het laaistokke gebruik om kerse in die boorgate vas te druk.

 

(Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling met byvoegings deur Willemien le Roux)

 

[1]  Onderhoud met Bennie van Staden, 1980 (A I 7)

 

[2)Onderhoud met Jan Burger, 1980 (C I 7) (C II 1)

 

[3]  Onderhoud met Cassie en Lettie van Heerden (I I 2-3) (I II 10-11) (J I 9-10) (S II 3)

 

[4]  Onderhoude met Hugo Lemcke en Albert Lemcke (R II 4) (T I 9-10)

 

[5]  Purple Pod Terminalia

 

[6]  Onderhoude met Thys Taljaard (X I 1) en Albert Lemcke (T II 4-5)

 

[7]  Later meer onder die tema van “Kerk”, oor die NG Kerk wat ds. Laubscher op Paul en Nooientjie Kotze (Rina) se grond wou laat bou het.

 

[8]  Onderhoud met Kassie en Lettie van Heerden, 1980 (I I 2) (I I 3) (I II 10-11)

 

[9] Onderhoud met Grieta Lemcke, 1980 (Q I 10) (R II 4) (S II 3)

 

[10]  Onderhoud met Sannie Coetzee, 1982 (Z I 1)

 

[11]  By vele beesposte in Botswana word hierdie metode presies nog so toegepas, ’n nalatenskap van die Boere?

 

[12]  Onderhoud met Jan Burger (C I 8) (C II 2-3)

 

[13]  Onderhoud met Jan Burger (C I 8) (C II 2-4)

 

[14]  Onderhoud met Cassie en Lettie van Heerden (I I 2-4)

 

[15]  Onderhoud met Hugo Lemcke (Q II 7)

 

[16]  Onderhoud met Albert Lemcke (S II 3) (T I 4-6) (T I 5)

 

[17]  Onderhoud met Albert Lemcke (T I 6)

 

[18]  Onderhoud met Thys Taljaard (Y I 9-11)

Print asb uit en deel met ander om te lees

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page