top of page

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van

die samesteller op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

 

DICK EATON, JUNIE 2016.

Vraag: Mnr. Burton is vir ons ‘n misterieuse figuur en weet ons van New-Zealand en die opkoop van die beeste. Die mense praat met baie respek van hom … watse tipe mens was hy en watse rol het hy gespeel?

DE: Hy was ‘n harde mens maar ook ‘n sagte mens gewees. Mense het by hom geld geleen en geld gekry, en sommige het hom nooit terugbetaal nie. Ek onthou die gesegde goed van hom, party mense het vir hom gesê, “Aren’t they paying themselves?”, dan het hy geantwoord, “What, I pay themselves?” Mnr. Burton het meeste middae op die voorstoepie van die huis gesit met daai hoed van hom. Ou Daggaman kom eendag verby en hy roep vir hom, “Dammit, come here”, want sy enigste naam was “Dammit” vir enige iemand wie se naam hy nie kon onthou nie. Hy het meeste Boesman en ook Herero werkers gehad. Toe ek hier gekom het was daar nie Tswana's hier nie, dit was Boesmans en Herero’s. Kalkfontein was eintlik die verste wat Tswana's gewees het hierso.

 

Mnr. Burton se huis wat nogsteeds daar staan op Ghanzi-plaas was oorspronklik gebou deur Tommy Kays in 1902. In die 1800’s het Van Zyl, die ou jagter ook gebly op Ghanzi-plaas en vir homself ‘n huis daar gebou waarvan die fondasies nog sigbaar is vandag. Die groot pan naby die huis het altyd water gehad omdat daar ‘n fontein in hom is.

 

Vraag: So Oom bevestig dit vir ons, want ons het ‘n artikel wat ons nog bêre van Jeff Ramsey, wat altyd baie giftig is teenoor die boere. Hy skryf dat Cecil John Rhodes “disenfranchised a whole lot of the black tribes that owned Ghanzi by giving it to the Boers”.

DE: Nee, hy weet nie waarvan hy praat nie. Volgens Moremi was Ngamiland syne. Hy het nie mense gehad wat hier gebly het nie, maar hy het dit “geclaim”. Van Zyl het hier gekom met die toestemming van Moremi, nie met toestemming van iemand anders nie, so dit bevestig dat Moremi dit “geclaim” het. Die enigste swartes waarmee ek in kontak gekom het, dis die rede hoekom ek nie Tswana praat nie, was die enkele een wat vir die mense in die Die Kamp kom werk het later. Ghanzi se  administratiewe gedeelte en geboue het beter bekend gestaan as Die Kamp en is die plaas waarop dit ontwikkel is se naam Gemsbok Pan gewees. Die oorspronklike Ghanzi-plaas en pan is 20km noord op die Maun pad. Die verste wat Makgalakgadi’s was, was Kalkfontein. Selfs Mapute, die polisieman hierso was half Boesman, hy kon meeste van die tale hierso praat en was ‘n baie goeie spoorsnyer gewees. In die ooste kant was die naaste swart mense omtrent Ngami, by waar die water gekom het.

 

Vraag: So met ander woorde hulle het dit “geclaim” maar dit nie bewoon nie?

DE: Dis reg, want hulle kon dit nie bewoon nie, hier was nie genoeg water vir hulle nie.

 

Vraag: Matthias Gunther wat by my pa op D’KAR gebly het se navorsingswerk uit van die ou ontdekkingsreisigers en missionaries se oorspronklike geskrifte verwys na ‘n “feared people” en “actually quit aggressive”. Hy beweer dis hoekom daar nie swart mense hier gebly het nie, want die Boesmans was baie dominant hier. Dit is eintlik baie interessant dat hulle die boere toegelaat het om in te kom, maar nie die swartes nie … dit sê nogal baie.

DE: Die Makoko Boesmans was vreeslik gewees, nie die ander nie. Hulle het vroeër jare in Namibië baie van die mense geskiet met pyle en boë, hulle was “fearful” gewees. Nie een van die ou Boesmans kon Tswana praat toe ek hier gekom het nie, hulle kon Afrikaans praat en dit wys vir jou hulle het nie kontak met die swartes gehad nie.

 

Vraag: En die Herero's waarvan Oom gepraat het, waar het hulle gebly?

DE: Mnr. Burton het mos geglo in die Herero's van Namibië, hulle was die beste beeswerkers volgens hom. Mnr. Burton het die Herero's ingebring, hulle gaan huur in Namibië as beeswerkers, hulle het nie self ingekom nie. Die Duitsers het op die Herero's begin skiet toe vlug hulle uit Namibië oor die grens na Makunda toe … dis hoe ou Bimbo hier beland het.

 

Vraag: Kan Oom my meer vertel oor die rol van Tsau. Dit wil voorkom of Sehitwa nie ‘n faktor in daai dae was nie, maar die ou stowwerige village van Tsau ‘n belangrike plek was toe Marthinus Drostky hiernatoe getrek het?

DE: Ek weet nie die geskiedenis van Tsau nie. Mark Kiriako se pa het die winkel op Tsau gehad en Steven Stefanides die winkel op Sehitwa. As jy op die winkel se stoep gesit het kon jy die meer se water ‘n paar honderd meter weg sien. Ngami was daardie dae 25 myl lank en het die water tot naby die bestaande teerpad van vandag opgestoot. As jy reguit Ghanzi toe kom van Tsau sal jy heel links van die kwarantynkamp, amper by Xabo deurkom. Oom Thys Taljaard het op Sehitwa mielies geplant en verkoop in Ghanzi. Elke jaar na die water sak ploeg en plant hy mielies en dan oes hy weer voor die water opkom. Ek was ‘n paar jaar terug in daardie omgewing en die murasie van sy huisie en die Peperboom teen die rand aan Sehitwa se kant staan nog daar.

 

Vraag: Die Delta het daardie dae ook baie meer water gehad aan sy weste kant, wat hy nou nie meer het nie. Dit was dalk dat tonge water op die Tsau roete was?

DE: Vroeër jare het die Thamalakane rivier water gehad en toe hy droog word toe droog die meer ook op.

 

Vraag: Waar in Sehitwa is die plek waar hy mielies geplant het Oom, is dit Bodibeng se kant toe?

DE: Nee, hy is op die suide kant, tussen die ou pad waar die meer mos inkom en die nuwe teerpad, hy’s daarso. Nog ‘n interessant ding was dat Oom Hugo en Oom Albert (Lemcke) het suiker gekoop in Gobabis. Gobabis was die naaste dorp in Namibië en meeste voorrade is daar aangekoop. Daar was ‘n romery en het daar weekliks ‘n roomlorrie van Ghanzi-af room gery. Dit was die enigste inkomste vir meeste van die mense gewees. Die suiker het hulle dan via Maun tot op Katshikau gevat en dit daar geruil vir mielies, dit terug gebring en in Ghanzi kom verkoop. Die ou mense het baie moeite gedoen. Net die pad na Maun was alreeds ‘n lang, harde en volle dag se dryf van Ghanzi. Daar was twee “tracks” wat paralel met mekaar geloop het, die een was vir Jeeps en die ander vir ander voertuie … en behoede die een wat gevang word op die verkeerde spoor.

 

Vraag: Het hulle dan deur die Moremi gery?

DE: Hulle het eintlik oor die Savuti getrek op Katshikau-toe. Een jaar het Oom Albert en Hugo met hulle families op sy Diamond-T lorrie vasgeval na baie reëns in die Mababe vlaktes. Oom Hugo en ‘n Odendaal het besluit om Maun toe te loop vir hulp. Gelukkig het hulle donkies gekry by mense op die pad waarmee hulle verder kon ry. Twee van die kinders op daai lorrie lewe nog vandag, Nelie de Graaff en Daphina van der Merwe. Hulle kon nie afklim nie en die vrouens het op die wa gekook. Niemand kon presies onthou watse jaar dit was nie, maar dit was in die 1940’s gewees. Daar was ook ‘n Kiriakos en Mark sê dit was sy pa, hy weet ook nie watter jaar dit was nie.

 

Vraag: George Silberbauer het ingekom as ‘n DC, en het hy baie geskryf as Antropoloog en haal Margo & Martin Russell hom ook aan oor sy informasie. Was hy reeds ‘n Antropoloog toe hy in Ghanzi gekom het?

DE: Hy was die eerste man wat ek van weet wat Boesmantaal as ‘n groot man geleer het. Ek weet nie of hy gekwalifiseerd was nie,  maar dit was sy belangstelling. Dit was ‘n deel van sy werk en het die bestuur van die CKGR (Central Kalahari Game Reserve) onder hom geval as DC. Hy het baie gereis, in die reservate ingegaan en met hulle geonderhandel.

 

Vraag: Wie se wysheid was dit om die CKGR te proklameer as ‘n natuur reservaat?

DE: Ek dink dit was amper voor Quett Masire se tyd, ek weet regtig nie. Dit was ‘n regeringsbesluit en het nie van Ghanzi af gekom nie.

 

Vraag: Met die proklamasie van distrikte was daar mos wildlife management areas, tribal land, freehold land ens, verduidelik vir ons waarom dit gebeur het en hoe dit gewerk het?

DE: Voor Cecil John Rhodes was alles eers tribal land. Later het Cecil John Rhodes die plase aan die boere uitgegee as freehold. Toe kla van die mense oor die freehold, want dit is perpetual ownership, toe maak hulle dit leasehold … die heel buitenste plase is almal leasehold. Dit is hoe die drie groepe gekom het.

 

Die hele Botswanaland het ook nie aan die Motswanas behoort nie, hulle is mos hier ingejaag. Dis hoekom jy van hieraf tot aan die weste kant van Kimberley die Tswana mense kry. Die Maltabele’s van Suid Afrika wou die vrugbare land gehad het toe jaag Motsilikatse die Tawanas daar uit en toe vlug hulle Noord, dit is hoe hulle in Botswana gekom het.

 

Vraag: Die binneste gronde hier wat nou freehold is, is deur die huidige regering ook verklaar as freehold. Dit is net hier, die Molopo en Bray …

DE: Perpetual freehold. Daar is veel by Gaborone distrik, Lobatse area en verder noord in die Tuliblok.

 

Vraag: Is dit verskillend van die title deed?

DE: Jy moet ‘n title deed op freehold hê om te sê dat dit joune is, maar jy kry ook ‘n title deed op leasehold. Dit word nie eintlik so genoem nie, die beskrywing is net bietjie anderste.

 

Vraag: Titel deed is nie perpetual ownership nie?

DE: Nee, dis 99 of 50 jaar, gewoonlik 99 maar dit kan enige iets wees.

 

Vraag: Dink Oom daar is ‘n kans dat daar ‘n politieke proses sal kom wat die freehold farms in Ghanzi sal verander?

DE: Definitief nie in die huidige omstandighede nie, nee. Dit moet meerderheid van Parlement kry, dis nie ‘n ding wat jy sommer verander deur ‘n Minister nie.

 

Vraag: Het die wildlife management areas (WMA) al in Oom Dick se tyd bestaan?

DE: Wildlife management areas is taamlik nuut.

 

Vraag: Die “settlements” waarheen die Boesmans verwyder is buite Ghanzi was naby die WMA’s, maar ek weet nie of van hulle binne was nie?

DE: Meeste van hulle is nie.

 

Vraag: Wat sal mens die grond noem waarop die settlements uitgesit is?

DE: Dit sal tribal land genoem word, maak nie saak of jy Boesman, Tswana of Europeër is nie, dit sal  ‘n tribal area wees. Charlie Sharp het aan die tribe behoort by Kalkfontein, want hy was so lank daar.

 

Vraag: Interessant, vertel ons meer daarvan.

DE: In die tribe het jy sekere regte en kon jy bewei op die gronde en applikasie maak vir beesposte, tribal land ens. Kalkfontein was tribal land, daar was nie plase daai tyd daar naby nie. Hy het bees gehad en kon hy hulle seker by sy boorgat gehou het. Kyk, as jy op tribal grond is en jy maak ‘n boorgat dan is agt kilometer om die boorgat joune. Die grond kan ook na die eienaar se dood oorgedra word na die familie met die doodsertifikaat. Hierdie hele weste gedeelte, ek sal nie sê Kalkfontein nie, het Moremi “geclaim”. Waar Ghanzi-huis en die dorp is nou was syne, dit is nie teengestaan sover ek weet nie.

 

Vraag: Is dit iets waarvoor jy kon aansoek doen of verdien jy dit deur een of ander herkenning deur die Chief, hoe werk dit nou?

DE: Eintlik moet dit deur verblyf wees.

 

Vraag: Waar het oom Charlie Sharp vandaan gekom?

DE: Hy was meeste van sy lewe hier. Hy het van Kanye afgekom, op sy eie ingekom en was al die jare net ‘n “trader”. Sy vrou is deur Hardbattle aan hom voorgestel en het sy van St Helena af gekom. Hy het altyd gesê dis die beste “deal” wat hy nog ooit gemaak het. Sy ma en broer was ook op Mahalapye en Kanye. Hy was ook die eerste gewees om ’n leeu hier in die Kalahari te sien. Jimmy Sharp was Charlie Sharp se seun. Hy is latere jare hier weg en het in Kanye gaan bly.

 

Vraag: Ek weet dat hy het die eerste kar ingebring het?

DE: Ek dink hy het die eerste trok ook ingebring. Ek onthou sy kar se registrasie plaat was BI1, Mnr. Burton het BI3 gehad, daai jare het ons al die karre geken by nommers. BI6 was die Kotzè’s, BI7 was die Flattery’s, BI28 was my ou Bedford gewees.

 

Vraag: Wat kan Oom Dick ons vertel van die Craill familie?

DE: Hulle was al hier toe ek hier kom, maar ek weet hulle was nie van die oorspronklike trekkers nie. Tinkie Craill het transport gery en sy lorrie het altyd so ‘n rooi streep oor die deur gehad. Kobie was ‘n taai ou vrou en het ook lorries gedryf en ‘n winkel gehad. Kobie was Tinkie se vrou en is sy later met Appel Kuhn getroud. Cecil en Adam Craill is kleinkinders.

 

Vraag: Weet Oom iets van Scottie Smith?

DE: Hy het nie in Ghanzi gebly nie, maar hy het hier gekom. Hy was in Vryburg se wêreld.

 

Vraag: En die Namas? Hendrik van Zyl het met die Namas te doene gehad en Simon Kopper, ‘n Nama kaptein, het iewerste naby Lehututu gevestig?

DE: Ek weet nie hoe het die Hottentots hier gekom nie, maar hulle het definitief verder Suid in Kalkfontein se area aanspraak gemaak. Alhoewel hulle nomadies was, was hulle baie soos die Boesmans, maar hulle het vee gehad. In Suid-Afrika was hulle die eerste eienaars van vee.

 

Vraag: Het Oom enige inligting oor die Flattery’s en was hulle handelaars of boere gewees?

DE: Hulle het ook eers latere jare ingekom en was hulle nie deel van die vroeë trekke nie. Toe ek in die 50’s  hier aangekom het was hulle al hier en almal was boere. Ted is nou al 96-jaar oud en bly in Lobatse.

 

Vraag: En die Ramsdens?

DE: Hulle het ‘n winkel in Ngamiland gehad en toe kry hulle die twee plase hierso op die ou pad Gobabis-toe, net bo Quagganai. Burt en Werner Ramsden het daar gebly.

 

Vraag: Ek onthou as ons met lorries van Gobabis af gekom het en ons sien Ramsden se plek dan was dit nie meer vêr Ghanzi toe nie?

DE: Hulle was soos die Sharps, as jy by hulle verbygery het en nie kom tee drink het nie dan was jy in die moeilikheid. Die Vickermans het later daardie plase gekoop.

 

Vraag: En wat van Dusty Rhodes en die Marnewicks?

DE: Dusty het plase hier gehad, maar nooit permanent hier gebly nie. Hy’t hier gebly vir ‘n paar maande dan gaan hy weer terug na sy plase in Lobatse. Hy het ook ‘n huis in Mafikeng gehad. Die Marnewicks het eintlik nie hier gebly nie, nie die laaste jare nie. Hulle is al lank hier in die land en almal nou mos Kang se area en suid. Hulle name is meer bekend in die Molepo omgewing, die suide. Die Marnewicks en die Taljaards is familie en dit is seker waar die verbinding met Ghanzi kom.

Onderhoud van Willemien le Roux met Dick Eaton, Junie 2016

(Opname DE3 - DE6)

DICK EATON - Deel 2

Ander Ghanzi
webblaaie

as jy enige kommentaar oor die artikel het.

bottom of page