top of page

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller

op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

 

Vraag: Watter Drotsky is dit nou?

SC: Dit is Gert, nie Marthinus nie. Kyk hulle was soos net die twee. Ek weet nie of dit nou na Oupa se dood is of so nie, toe’t hy Suidwes-toe gekom. Toe’s hy af Republiek toe en toe’s hy met die vroutjie getroud, maar ‘n dierbare mens.

 

Vraag: Nou wat was haar naam?

SC: Ek dink ek weet nie, ek het daarom gedink, ek dink dis Pistorius.

 

Vraag: O, want hier staan nou Ant Salie agterop.

SC: Ja, haar naam is Salie, maar die van is … ag, sy was ‘n klein ou mensie.

 

Vraag: Dis pragtig, ja.

SC: Ja, en dit is nou eintlik ‘n rol wat daarop is, maar daar was ‘n enjin op, maar kyk dis nou soos hulle die rol gedraai het … ag jy sien dit mos baie daar op Kalkfontein ...

 

Vraag: O, ek het gesien daar’s so ‘n ding wat daar staan, maar ek het nie geweet wat dit is nie.

SC: Ja, en nou is dit net so ‘n stomp jy weet wat hulle die wat ook al, hulle noem dit slingers, dan sit hulle hom so in lat hy vas is en dan so weerskante een, een nou hierso en die ander een daarso. Ja, as die een se hand hier is sal die ander een kan stoot en so … verstaan jy ?

Vraag: Ja, die twee draai gelyk aan die weerskante van die stomp.

SC: Ja, maar jy moet gaan kyk dan sal jy dit sien.

 

Vraag: Is hier nou ‘n put hier op die punt?

SC: Ja, ja die put is daarso, daar waar die enjin is.

 

Vraag: Nou waaraan kom die emmers – hang daar ‘n balk of iets waar die tou oor gaan?

SC: Nee, jy gaan glad nie af nie, hierso is nou pype, dis maar soos dit vandag ook is, ‘n silinder onder met die pype bo.

 

Vraag: Sjoe, dit was nogal ‘n moderne ene daai.

SC: Ah, hierdie is nou al meer modern. Die rol is nou ... dan kom die toe nou so oor jy weet dan draai hulle nou maar net altyd – as die een emmer onder is, dan’s die ander een bo en so jy weet. Dan vat iemand die water en dan gooi jy dit uit. Dit is nou maar ..

 

Vraag: Maar hierdie het nou pype en goed gehad en dis nogtans met die hand opgetrek?

SC: Ja, soos jy hom draai, die emmer jy weet as daar nou twee is, draai die een op en die ander een af. Daar is nou nie ... want kyk die emmer gaan mos nou nie oor nie, seker nou maar net tot by ‘n sekere plek lat hy nou uit is – dan gaan hy nou weer terug. Die meeste het net een emmer ... gaan kyk daar op Kalkfontein, as hulle nou water skep, daai mense kan vir jou beter vertel jy weet.

 

Vraag: Ja, ek moet dit sommer gaan afneem.

SC: Ja, en hierdie is nog op Ghanzies. Dis die pan daar en dis Ada en Ivy toe hulle klein gewees het.

Vraag: Is dit daar op Tannie Burton se werf?

SC: Ja … daar waar hulle bly. Dis ‘n groot pan daardie, die water loop soms oor die pad as hy nou baie reën, in 1934 byvoorbeeld het hy deurgeloop oor die pad soos jy nou van die Kamp af Ghanzies toe gaan.

Vraag: Dis ‘n groot pan water, ek het dit nog nooit so gesien nie.

SC: Ja, dis eintlik diep water hier. Hierso nou, hier iewers is so ’n groot jy weet staal anker, hulle sê die ou Van Zyl hy’t mos vroeër ook daar gebly, seker op Ghanzies.

 

Vraag: Het hy daar gebly?

SC: Ja as jy nou daar by Ghanzies by die huis staan, en jy kyk so na daai windpomp toe wat so ‘n entjie daar staan, daar’s mos so klippe en goed, dit is sy huis gewees. Hulle sê  dit was ‘n moderne huis, enne toe’t die Hotnots hom mos glo hier in Suidwes doodgemaak. Toe’t die kinders later gehoor hy’t daar geld begrawe, ek dink twaalfduisend Krugerrande jy weet of so iets, en hulle het die hele huis afgebreek en gesoek ... hulle het eintlik baie gesoek ...

 

Vraag: Nooit gekry nie?

SC: Nooit gekry nie. Ag dis seker ook maar sommer stories. Dis nou eintlik vier van die Drotsky nageslag. Dit is, die ma’s van hulle is my ma se susters. Dit is die oudste een, dis Marnewick en dis my broer …

 

Vraag: Wat is sy naam?

SC: Christaan, en daardie is … hierdie is Jan Marnewick, en dis my broer Christian Lewis, ag ek weet nie, ons sê mos almal Lewies – dis seker verkeerd, maar dit is nou maar so, en hierdie is ook ‘n neef van hulle – dis ’n Pretorius, Coenraad en daardie is Boet, ook ‘n Pretorius. En dié is ‘n Predikant van ons, wat ons gaan besoek het.

 

Vraag: Wat was sy naam?

SC: Nee, D.A. iets van Malan.

 

Vraag: Ja, D.A. Malan, hier staan agterop “Die familie Chrisjan Lewis van Ghanzi ter herinnering aan ‘n besoek aan hulle 2-7 Junie 1928 – met seënbede en groete.”

SC: Hy was eintlik vreeslik gaaf – ek was baie lief vir hom.

Vraag: Hoe dikwels het die predikante vir Tannie-hulle?

SC: O jong, die dis baie min – dit is ek sal jou sê, ek kan onthou van Ds. Loubscher, ag daar was party-keer Gereformeerde predikante, ek praat nou van ons s’n, ek kan nie meer so mooi onthou nie.

 

Vraag: Het Tannie-hulle saam met die Gereformeerdes kerk gehou? As daar nou ‘n predikant was, het almal saamgekom?

SC: Ja, ja, as hulle ... daardie predikante het baie minder gekom, ag wel, ek weet nie, seker maar hier na twee keer gekom. Maar ons s’n het darem ‘n paar keer gekom, maar ek kan net onthou van Ds. Loubscher jy weet wat ek nou al groot gewees het. Toe was ek omtrent so twaalf jaar wat ek kan onthou, toe was hy daar.

Vraag: En die Ds. Malan, was Tannie toe al groot?

SC: Ja, toe was ek – toe’s ek aangeneem maar dis nie hy wat my aangeneem het nie. Ds. Mentz van Gobabis, van Mafeking destyds, hy’t ons aangeneem. Ek kan onthou, dan was daar eenslag ‘n Visser jy weet, van die A.E.B., wat ook daar diens gehou het, en van der Spuy en DS. Mentz was twee keer daar.   En dan ou Ds. le Roux – het julle hulle geken?

 

Vraag: Nee.

SC: Hy was hier in 1940 – ek het ‘n Bybel gehad wat hy vir ons gegee het, ek het dit vir Chris en Johanna gegee.

 

Vraag: As die predikante gekom het, het hulle gewoonlik van Gobabis af gekom of van Suidwes of van waar?

SC: O jong, hulle het gewoonlik maar, party het sal ek sê soos Ds. Loubscher en ds. Mentz-hulle ook, dit was nog meer net ossewaens in daardie tyd want daar was daai tyd seker nog nie motors ingebring nie. Maar Ds. Van der Spuy, toe’t  ons al almal motors gehad jy weet. Maar daar het baie maal predikante gekom. Ek was vreeslik teleurgesteld met Ds. Nieuwoudt wat hier gewees het, jy weet mos, hy’t ook ‘n boek geskryf en onder andere het hy nou van Ghanzies ‘n foto ingesit van ‘n gebou en hy’t gesê dis ‘n kerk maar dis glad nie. Daar was so ‘n kerk gebou wat hulle gehad het, maar dis nog voor my tyd is hy gebou. Ek dink toe was Ds. Van der Hard? hier, maar ek kan niks daarvan onthou nie. Toe die Dorslandtrekkers wat daar gewees het die plek gemaak, en ek dink hulle moes nooit daai plekke verwaarloos het nie ...

 

Vraag: Ja, dis jammer ...

SC: Ja, dis vreeslik jammer.

Vraag: Nou die gebou wat hy gesê het dit is ‘n kerk, wat was dit dan gewees?

SC: Nee, dis sommer die Dorslandtrekkers wat toe hulle seker nou hoor die predikant kom, toe het hulle nou die gebou sommer so van klippe gemessel maar hy was darem uitgepleister, en vensters en so aan gehad. My pa-hulle sou ek sê hulle het sommer so gestawel die eerste huise van klip jy weet, maar ek is jammer hulle het dit afgehaal, laat verwaarloos, hulle moes dit daar gelos het.

 

Vraag: Was die huise van kalkklippe gebou?

SC: Ja, van die kalkklip, dis sommer sulke plattes jy weet, soos jy sien daar op ou Khoutsa is mos sulke plat klippe, soos daai graftes wat daar is. Het jy al daarna gekyk ?

 

Vraag: Op ou Khoutsa?

SC: Ja.

Vraag: Oom Albert-hulle het my daarvan vertel.

SC: Nouja, so, op die manier was die gebou, die eerste geboue wat hulle nou seker sommer gemaak het was ook maar so.

Vraag: Nou dit het nie messelwerk of iets bygehad nie?

SC: Jy meen gemessel nie?

Vraag: Ja.

SC: Nee, nee … dit was … as ek, want kyk ek was baie klein toe ons daar weg is, maar ek dink dis sommer gestapel, behalwe die wat hulle nou gemaak het vir die kerk, dié was gemessel gewees.

 

Vraag: Het Tannie-hulle nie baie las gehad van slange wat inkom in so ‘n muur nie?

SC: O ja, wag ek sal eenslag het daar een ingekom. En daai orrel wat Ant Lena het, ons sit aan die tafel en eet en hulle hoor iets, en hulle dink  dis ‘n muis in die orrel. En Oom John, Manie se pa, staan toe op en hy wil die muis gaan slaan. Toe hy sy hand so lig om die muis te slaan toe’s dit ‘n rinkhalsslang, toe  spoeg hy is sy oog. Hy’t wragtiglik pyn gehad. Eenslag het my broer Christiaan afgegaan met die rol in ‘n put in, ek dink daar was fout onder gewees, ek dink die silinder was af.   Terwyl hy in die put ingegaan het met ‘n tou toe spoeg die slang ook in sy oë. Maar nooit, ek weet nooit van mense wat gebyt is nie. Daar het eendag so ‘n doofstom jong wat vir ons gewerk het ‘n muur gepleister of iets, en toe’t een hom aan sy vinger gebyt, maar hy’t niks oorgekom nie!

 

Vraag: Dit was seker nie ‘n giftige een nie?

SC: Hoe sê jy? Nee, kyk hulle sê mos dit is nie altyd dat die gif ingaan nie, en ek dink in dié geval was dit so, want hulle sê daai was ‘n baie giftige slang gewees.

 

Vraag: Tant Sannie sê Tannie se man het ook in Ghanzi gebly, vertel bietjie watter tyd was dit?

SC: Hoe sê jy?

 

Vraag: Tannie-hulle het ook in Ghanzi gebly toe Tannie-hulle getroud was?

SC: Ja.

 

Vraag: Vertel waar het Tannie Tannie se man ontmoet en hoe lank het julle daar gebly?

SC: Die gebou wat ons in gewees het toe ons getroud is, was ‘n winkel omtrent vier myl van die Kamp af ....op die pad na Khoutsa daar‘t ons ‘n winkel gehad, my broer en ek. En toe’t my man daar gekom, hy’t eintlik kom bees koop en toe’s ons twee later getroud. Toe’t ons ‘n tyd in die winkel gewerk.

 

Vraag: Het hy toe maar kom bees koop en toe agter die vrou aan daar gebly?

SC: Ja, toe bly hy … toe vat ek en hy die winkel jy weet … toe het ons, ek weet nie, vir … ek weet nie hoe lank nie, het ons toe daar in die winkel gebly. Ons is  toe daarna Gobabis toe, daai huis van Antie Grieta, jy weet Oom Hugo-hulle. Die agterste deel, behalwe daai voorste wat hulle nou later aangesit het, dit het ons laat regmaak en nou so bietjie laat verander. Een van die ou Dorslandtrekkers het daarin gebly.

Vraag: Tannie kan nie onthou wie se huis was dit oorspronklik nie?

SC: Ja, dit was Evans.

Vraag: Devenish?

SC: Die vrou was ‘n Du Plessis, maar die man is toe dood en toe’s die vrou weer met ‘n van Heerden getroud. Daar van daardie plek teruggekom en weer in die winkel gebly vir ‘n jaar of so … ek weet nie hoe lank nie.  Toe het ons daar waar Toekie-hulle nou bly, die gebou wat eenkant staan, daar het ons toe gebly.

Vraag: Is dit nou op die Kamp?

SC: Nee, daar waar Toekie-hulle bly.

 

Vraag: Toekie Lewis?

SC: Ja … nie daai groot gebou nie, die ander een wat nou sommer daar eenkant staan.

 

Vraag: Hulle het my al gewys, ja.

SC: Daarin het ons gebly tot my dogtertjie seker sewe jaar was toe’t ons Suidwes toe gegaan, jy weet toe sy moes skool toe gaan.

Vraag: Nou het die Oom kom boer hier in Suidwes?

SC: Ja, ons het daar waar Chris-hulle is het ons toe die plaas gekoop en gebeginne boer.

 

Vraag: Watter omgewing is dit nou weer?

SC: Soos jy … gaan jy nooit by my seun Chris-hulle aan nie?

 

Vraag: Ek was nog nooit daar nie, ek ken hulle glad nie.

SC: O, dan weet ek nie. Dit is soos jy van Sandfontein af kom, Buitepos sal ek nou maar sê, omtrent vier myl daarvan af kry jy een plaas, en dan’s dit Blouberg. ‘n Groot gebou wat so staan en dan die volgende plaas is  hoesenaam … Hartower en dan Dabis. Dabis is ons plaas – jy sien tog altyd die bordjie daar?

Vraag: Ja, ek herinner my nou waar …

SC: Ek sal nogal daarvan hou as jy bietjie daar aangaan, hy het dit baie mooi reggemaak jy weet – hy’t my huis en my seun Gerhard – dis ‘n ontsaglike groot plek!

 

Vraag: Het Tannie-hulle toe maar al die jare in Gobabis-omgewing gewoon?

SC: Ja, ek het daar in die huis gebly tot ek ouetehuis toe gegaan het.

 

Vraag: Wat was Tannie se man se naam?

SC: Joey Coetzee. Hy’t eintlik ‘n vreeslike naam – sy naam is Abraham Adam Josef Coetzee! Ek het amper uitgebars in die hof toe ek hoor wat sy naam is.

Vraag: Het Tannie-hulle toe op Ghanzi getrou?

SC: Nee, nee, ons het op Gobabis kom trou, voor die magistraat.

Vraag: Het die hele familie saamgekom?

SC: Nee, net my broer en Annie-hulle het saamgekom. Ons is stil, al die susters is sommer stil getroud – ons het nie ‘’n bruilof gegee nie.

 

Vraag: Nie ‘n partytjie agterna nie?

SC: Nee, ek hou mos glad nie daarvan nie. Ek het verkies om stil te trou en hy ook.  Ag wel, dit was daardie dae so anders as vandag.

Vraag: Van waar af het die Oom oorspronklik gekom toe hy nou kom beeste koop het?

SC: Van Upington af. Sy pa was een van die oudste inwoners van Upington. Ag, dit was maar net so onbewoond soos by Ghanzies destyds. Dis jammer, ek het netnou die papier wat ek wil vir jou  gegee het, is van hulle mense, dit is glad nie van ons mense nie, maar van my skoonpa se geskiedenis.

Vraag: Upington se wêreld?

SC: In Upington, ja.

Vraag: Ons het nou-nou gepraat van bruilof hou, maar vir die jongmense in Ghanzi, watter ander soort van partytjies of bymekaarkomste kan Tannie onthou?

SC: O, ons het partykeer tennis gespeel.

Vraag: Waar?

SC: Ja, ek was nogal baie lief vir tennis en ons het ook perd gery en kaartgespeel.

Vraag: Was dit nou maar meer die broers en susters, of …

SC: Nee, ons was ‘n hele paar families, ons was so vier of vyf families so naby daar.

Vraag: Kan Tannie min of meer onthou wie was daar?  Net ‘n paar name, watter jongmense het altyd saamgespeel?

SC: Eintlik … Oom Louw Lewis se seuns.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Tannie Sannie Coetzee, Februarie 1980
(Band Z, Kant I)

SANNIE COETZEE neé Lewis

Het jy enige kommentaar oor die artikel ?

Deel asb met

jonk & oud.

Almal is welkom om saam te bou vir onthou ...

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page