top of page

EKONOMIESE OORLEWING IN DIE OU DAE

Om voorrade te verskaf in ‘n gebied waar nog geen ontwikkeling bestaan nie, was nog

altyd ‘n logiese manier van bestaan. Koop en verkoop was dus altyd maar iets waarop

die eerste Vestigers teruggeval het om hul brood mee te verdien. Dis verstommend hoeveel winkels van die vroegste tye op die mees afgeleë plekke ‘n bestaan gemaak het. Die meeste was natuurlik langs die Kalahari se trekroetes, maar ook in Ngamiland soos op Tsau en op die Gobabis pad by Kalkfontein en Olifantshoek. Daar was egter die bekende roete van Ghanzi na Mafikeng [1] en veral in die suide waar baie ondernemers handel gedryf het op die mees eensame plekke. Intrekkers soos Theunis Kotzè se dogters het ook die gebrek aan vrouens aangevul in hierdie gebied, veral aan die handelaars! So is Lettie met Terry Gower op Lehututu getroud en Martjie wat met Vickermann van Kakia (of was dit Kokong?) getrou het.

 

Voorrade verskaf was ook afhanklik van transport, op vele maniere. Transportryers met hul ossewaens en latere lorries (vragmotors) het dus vêr gery en soms paaie self gemaak, om die winkels van voorrade te voorsien. Smouse kon ook deur middel van die winkels ‘n bestaan voer, want hulle kon verder reik as die winkel self en kon ook hul ware by Gobabis en ander plekke gaan haal.

 

Van die jonger intrekkers het voorrade vanaf Windhoek gaan haal vir winkels. Ruilhandel, dit wil sê beeste ruil vir winkelware, was ‘n bekende manier om sonder kontant die nodige te bekom. Sonder banke was kontant moeilik om te bekom en kontant ‘n skaars item.

 

Laterjare het die bekende NTC (Ngamiland Trading Company) op baie plekke kettingwinkels gehad, selfs op D’Kar. Cassie van Heerden het by verskeie takke gewerk.

 

Booy Kotzè het rondom 1925 vir drie jare in Charlie Sharp se algemene handelswinkel by Kalkfontein gewerk. Hy het trots vertel van sy broer Jan se ondernemingsgees. Behalwe sy boerdery op Rusplaas het hy ook ‘n winkeltjie gehad op Eersterus en in die omgewing gesmous. Terry Gower was met sy suster Lettie getroud. Toe Terry sterf het sy alles geërf en terug getrek Ghanzi toe. Broer Jan het haar gehelp en die besigheid naderhand oorgeneem.

 

Thys Taljaard het onthou dat sy ouers inkopies gedoen het by Tsau. Daar was winkels by Tsau gewees, want daar was mos ‘n magistraat, ene Steiken (?) wat hulle getrou het. (Daar is heelparty historiese grafte op Tsau te sien.)  Hulle moes wa-en-osse inspan en van Sehitwa af was dit 32 myl reg noord tot by Tsau. Hulle het dinge gaan koop soos mieliemeel, broodmeel en noodsaaklike kruideniersware. Sannie Coetzee van Dabis in SWA was ‘n suster van Grieta Lemcke en Lena Lemcke en het laterjare in Suidwes Afrika gebly. Sy het vertel dat sy en haar broer Chrisjan Lewis ‘n winkel gehad het oppad na Kgoutsa, omtrent 4 myl van die “Kamp” af. Haar man het kom bees koop en gebly en hulle is getroud. Hulle het die winkel oorgeneem en die ou huisie waarin Austin Evans en sy Du Plessis vrou gewoon het, laat regmaak om in te bly.

 

Dit was opmerklik hoeveel van die Ghanzi vrouens vroeër of later winkels gehad of daarin gewerk het. Dit was die enigste beskikbare arbeid waarmee kontant bekom kon word en ‘n goeie aanvulling vir die mans se transport en beestewerk.

 

Smousery

Smous was deur die jare ‘n gewilde en lonende bedryf vir baie rustelose inwoners. [2] Cassie van Heerden vertel dat sy pa hom met twee Boesmans Tsau toe gestuur het oor Sehitwa met die ossewa om te gaan mielies laai. Hy en sy pa het skoene gemaak en dan vir mielies geruil wat hulle kon smous. Booy Kotzè kon onthou dat hulle “konynpille” by smouse gekoop het vir malaria, wat baie voorgekom het. Hy vertel van ‘n Arabier, ene Ismael, wat gereeld van “onder” af kom smous het.

 

Smouse het gewone kruideniersware verkoop teen die goedkoop pryse van die 20’erjare. Mense kon sommer hul beeste ook aan ‘n smous verkoop, wat dan verder getrek het daarmee met behulp van ‘n paar arbeiders. Booy Kotzè werp lig op Charlie Sharp. Sharp het op Ghanzi die hele smousbedryf oorgeneem en later ‘n algemene handelaar op Kalkfontein geword waar Booy Kotzè vir drie jaar rondom 1925 vir hom gewerk het.

 

Voorrade Drank en Kos

Die winkels het ook maar nie alles gehad nie en die setlaars moes meesal maar eie planne maak om ete en drinke te bekom. Die proses om koffie te maak van koffiepitte was uitgerek en baie kinders wat moes maal onthou dit met wrewel. Cassie van Heerden het mooi verduidelik: Die pitte is gekoop en dan in driebeenpotte sorgvuldig gebraai met ‘n klein stukkie vet om die pot glad te maak. Suiker is by gevoeg en dan word geroer totdat die pitte donkerbruin was. Die pitte het soms aanmekaar geklou van die suiker, maar dit het die brousel sterker gemaak.  Witgatbome se wortels is uitgegrou, gestamp en gebraai, en saam met die gebrande of geroosterde koffiebone gemaal. Almal het koffiemeuletjies gehad. Volgens oom Cassie is die sg. Koffieboompeule selde in koffie gebruik, dit was maar met ‘n naam, want mense het gewoonlik ‘n jaar se voorraad koffiepitte gekoop en dit verwerk, soos ook die ander voorrade wat hulle vir ‘n jaar vooruit by ‘n winkel of smous gekoop het. Alles is dan saam met vrou en kinders op ‘n wa gelaai. ’n Kooplysie was gewoonlik medisynes, meel, “koekflour”, rys, suiker, koffie, tee, vla en kruie. “Daai tyd het die Boesmans natuurlik nie koffie en tee gedrink nie”.

 

Soggens het meeste mense mieliepap gekook van meel wat hulle self gemaal of gestamp het. Hulle het ‘n mieliemeule gekoop, maar indien nie beskikbaar het hulle mielies in ‘n groterige stampblok gestamp. Kaf word uitgewaai en die stampmielies word verder fyngestamp en gesif. Die res is gebruik in mielierys.

Die middagmaal was gewoonlik vleis met stampmielies of mielerys. Elkeen het vir eie gebruik groente aangeplant, onder andere marakkas. Laasgenoemde is nie gedroog nie, maar makatane (eens genoem “kafferwaatlemoen”) wel. Makatane is geskil en is in skywe gesny en soos biltong gehang om droog te word. Dit kon ‘n paar jaar hou. In stukkies gebreek en gekook met room daaroor was dit ‘n heerlike poeding, bietjie soos gedroogde appelkose of perskes.

 

Saans was daar meer afwisseling, veral in die winter, dan het hulle sop geëet bv. boontjiesop of stampmieliesop, en soms melkkos. Die oumense was nie lief vir swaar kos saans nie. Hulle het destyds meermaal drie etes per dag verkies, maar later net twee. Almal het ‘n oorvloed biltong gehad, soms met room geëet, maar hulle het nooit droë wors gemaak nie. Om wors te maak het hulle ‘n gat deur ‘n horinkie gemaak en ‘n derm oorgetrek. Hulle het ook ‘n derm met lepelsvol gestop, maar dit was baie stadig.

 

Seuns moes vroeg opsaal en bees saans kraal [3]. Hulle het bedags van veldkos gelewe. Hulle het baie wortels uitgegrawe en morama neute geëet. Om hul dors te les het hulle kambroo gebruik, ‘n groterige wortel soms groter as ‘n gellingkannetjie. Mens skil hom af en eet die waterige binnekant. Kalkoentjies is ook sapperig maar klein soos ‘n halwe piering. Dit groei ondergronds, so 5 duim diep. Die blare lyk soos ‘n vetplant s’n.

 

Jong morama wortels kon mens braai. Die kambro en die moramawortel kan mens deur die jaan uitgrou en gebruik. Kalkoentjies se rankies verdroog en is soms moeilik sigbaar. Wilde uintjies is net somerkos. Dit lyk soos ‘n ui en groei omtrent 8-10 dm ondergronds. Mens braai dit. Na dit gebraai is het kinders dit fyngemaak vir pap wat byna soos melkkos gesmaak het.

 

Die sogenaamde wilde aartappel was ook gebraai en eetbaar, maar nie baie lekker nie, draderig. In die sandveld kry ‘n mens wilde patats, maar mens moet diep grawe vir die lekkerny. Die komkommertjies wat eers groen is en later rooi, is eetbaar. Mens kan sy stekeltjies/pennetjies sommer afvryf. Grieta Lemcke het daarvan gekerrie. ‘n Ander wilde groente wat ons ook ken, is marog, of misbredie. Dit word soos spinasie voorberei, en kan ook gedroog word.

 

Hugo Lemcke vertel dat die sogenaamde Koffieboonpeule net lekker was as jong peule as dit oor die vuur gebraai is. Dis nie in koffie gebruik nie. Cassie het genoem van wilde vrugte wat mens meer noordwaarts kry, so vanaf Kuke se wêreld. Hy praat van die wilde klappers, mispels en maroelas.

 

Hugo en Grieta Lemcke het daar op gewys dat mense hul eie mielies en ‘dyskoring’ geplant en gestamp het, maar brood is van winkel meel gebak. Pampoene is in die lande geoes, soos makatane. Almal het patats in die tuine gehad.

 

Die gesprek het oor kos gegaan wat Boesmans geëet het, veral veldkos. (Alles het verander sedert hulle rantsoene kry.) Veldkos was skaars in die winter, dan het hulle ou velle gebraai, gestamp en geëet. Hulle het ook sprinkane gebraai. In die vroeë jare was boere selfs bly as swerms sprinkane ingetrek het. Dan het die Regering mense gehuur om die swerms te bestry en so het van die mans kontant bekom. Mense soos “Mr. Burton” en Chrisjan Lewis het spanne georganiseer en heelwat geld verdien. Die swerms is met gif gespuit. Hugo Lemcke het daarop gewys dat sprinkane in die vroeë jare nie werklik ‘n plaag was nie omdat die wêreld nog oop was en die beeste was min.

 

Mielies en die sogenaamde “kafferboontjies” was maar altyd stapelkos en is dikwels saam gaargemaak. Die boontjiesaad is oor-en-oor gesaai, wittes, swartes en bontes. Die sogenaamde swartbekkies is baie later eers geplant. Mielies vir eie gebruik is in die koffiemeuletjies gemaal, maar die volk s’n is gestamp.

Drank kon vrylik ingebring word en elkeen het self gesorg. Wyn, brandewyn en bier was gewild. Gobabis en Mafikeng was die hoof koopplekke.

 

[4]Booy Kotzè het verduidelik hoe vleis op spitte in die veld gebraai is, byvoorbeeld tydens ‘n beestrek. Die punte van ‘n hout met twee mikke word skerpgemaak, as ook die hout self onder wat in die grond gesteek word naby die vuur. Die ribbetjie word deur die mikpunte gesteek, en word gaar van die vuur se hitte, nie van die vlam of kole nie. Die hele spit word af-en-toe gedraai.

 

Booy Kotzè het meer vertel van die Witgat wortel vir “koffie.” In die Depressiejare kon mense nie koffiepitte kry nie en is die vleis aan die wortels van die Witgat boom daarvoor gebruik. ‘n Soort kors het die vleis bedek, en dit is afgestamp. Die sagte vleis is gedroog on dan fyngebrand of gebak in ‘n pot. As dit bruin is, word dit gemaal. Mens kon dit om die helte “ming” met regte koffie maar Witgat was op sy eie lekker saam met melk. Suiker was baie skaars.

 

As gevolg van skaarste moes hulle soms van mieliemeel brood bak. Om die meel te bind het hulle dan ‘n bietjie van die skaars koringmeel gebruik. Hulle het ook geleer om van fyngestampte morama neute meel te maak. Ook by die meel moes hulle koringmeel voeg om dit te bind omdat die neute te ryk was, maar geen vet nie.

 

[5]Seepkook

Lena Lemcke het vertel dat hulle vroeërjare vir wasgoed self seep gekook het, hoewel hulle seep kon koop vir huisgebruik.

 

Toe elande nog volop was, kon hulle die diere se vet gebruik, maar hulle het ook die vet van bokke, beeste en skape gebruik. Die vet is in ‘n pot op die buitevuur gegooi met ‘n emmer water daarby. As dit kook word seepsoda bygegooi, ‘n lepel op ‘n slag. Die mengsel word geroer en elke nou en dan word nog ‘n lepel soda bygevoeg totdat die konkoksie na seep lyk. Die seepsoda moes hulle koop.

 

Klere

Dit was ‘n groot probleem gewees om vir almal klere te kry. Die oumense was afhanklik van smouse, by wie hulle rolle materiaal gekoop het. Namate iemand se klere gedaan geraak het, het die ma’s maar weer van dieselfde rol gemaak. Cassie van Heerden het vertel dat hulle driekwart broeke gedra het, gemaak van dik kakie ‘drill’. Cassie het ook self baie velbroeke gedra wat die oumense self gemaak het. 

 

Saamgestel deur Pollie (Laurika) Jerling, Samochima, Shakawe, rondom 2011.

 

 

[1] (WII 8),V15, Booy Kotze, (XI 12) Thys Taljaard, (ZI 5-6) Sannie Coetzee

[2] (I I 6-7) Kassie van Heerden, (W II 8-9) Booy Kotze, (I II 11) (S I 10), (J II 5-10) Kassie van Heerden, (J II 6)

[3] (J II 7-8) en (J II 9-10) Kassie en Lettie van Heerden, Hugo Lemcke (S II 12), (P I 9), (S II 10-11), Hugo en Grieta Lemcke (U I 8), Albert en Lena Lemcke, (V I 1),  (V II 4-5) Booy Kotzè

[4] (V I 1) Booy Kotze, (V II 4-5), Lena Lemcke, (U I 10)

[5] (J II 11) Kassie en Lettie van Heerden

Print asb uit en deel met jou familie  & vriende

Ander Ghanzi
webblaaie

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

bottom of page