BOERDERYE
Asseblief, deel met die ouer generasies
Die Boerdery van hierdie tydperke het gewissel van konserwatiewe metodes tot nuwe idees
en beter bemarking. Waar almal vroeër ewe ryk of arm was, het die skeidslyn van nuwe insigte en meer inisiatief duideliker geword. Ook die Regering het sy kant gebring met entstof en hulp en werkgeleenthede. Maar die verandering in transport van ossewaens na vragmotors was seker die ingrypendste verandering.
Volgens Hugo Lemcke is die Boerevereniging gestig op aandrang van ‘n D.C. (Muis of Mooie of Mooi) wat die boere aangemoedig het om op regte en beter diens aan te dring. (1) Daar was ‘n tyd toe byna almal aangesluit het, maar in die tagtiger jare het Hugo gekla dat net ‘n sekere groepie belangstelling behou het, insluitend Quet Masuri wat tog Presisdent was.
In die Dertiger jare, en selfs daarna, het ‘n bees se ras min invloed op die prys gehad. ‘n (2) Tollie se prys was tien sjielings, maak nie saak of dit ‘n goeie bees of ‘n “horingding” was nie. ‘n Stoorossie, ‘n bietjie groter as ‘n tollie, het een pond tien sjielings gekos.
‘n Groot os se prys was ses pond, ongeag sy voorkoms. Volgens Grieta was die enigste boer wat iets anders probeer het, haar pa Chrisjan Lewis. Hy het die Simmentalers ingebring. “Oorlede John” het dit ook probeer – waarskynlik Manie Lewis se pa John. (3) Hulle het ook Switsers (Bruin Swis?) probeer. Ander boere het maar aangehou met die tipiese Ngamiland beeste, asook om hul eie bulle te gebruik. Die verandering het gekom toe die Lobatse slagpale die beeste begin gradeer het. Meeste mense het Simmentalers aangeskaf in navolging van Chrisjan Lewis, wat vroeg in die Veertiger jare oorlede is. Meeste mense het Afrikaners gebruik, asook die Brahaman ras. (Baie jare later het Hugo e.a. die Brahamane met Herefords gekruis.) Maar m.d.o. beestrekke was Brahamane die beste, omdat hulle goed kon loop.
Hugo het so ‘n bietjie lig gewerp op die plase as eiendom. Volgens hom is 37 plase oorspronklik deur “Cecil Rhodes” uitgegee, maar die mense moes vyf pond per jaar “’quitt rent” betaal, dus huurgeld. Mettertyd het die Regering nog plase uitgegee, en toe (4) word die eerste 37 plase eindomsgrond. ie eerste plase het ook soms van eienaar verwissel. Chrisjan Lewis het bv. die plaas waarop Hugo geboer het, by Dawid van Heerden “gekoop”, maar steeds die vyf pond per jaar betaal totdat al die plase eindomsgrond geword het. Die “koopsom” het gewissel – 200 – 300 pond of ‘n ryperd soos die plaas waarop Albert Lemcke geboer het. (‘n Goeie ryperd was gesog en baie werd.)
Hier en daar het ryker boere grond in die suide bekom waar hulle slagvee kon laat rus en vetmaak. So het die Vickermans bv. ‘n plaas by skoonpa Burton geerf naby Lobatse, wat hulle later jare ‘n voorsprong bo Ghanzi kleinboertjies gegee het, wat gradering betref.
Die werklike Boerdery op Ghanzi was al die jare eintlik net met beeste. Maar daar was darem ander bedrywe ook. Seepkook was volhoubaar of noodsaaklik, en die stuur van room na Gobabis het broodnodige kontantgeld voorsien.
Die seep wat Lena Lemcke gekook het, was vir wasgoed bedoel. Lyfseep kon hulle darem koop. Lena vertel dat hulle vroeër baie elande geskiet het. Die klomp vet is in ‘n (5) pot gegooi met ‘n emmer water by en gekook. (Mens kon enige vet gebruik het.) Die soda is lepelsgewys met ‘n bietjie water aangemaak en bygegooi en geroer. Die proses het aangehou totdat die brousel begin seep word het.
Hugo vertel dat hy as gevolg van droogte soms tot 300 koeie per jaar verloor het. Dinge het eers verbeter toe die Regering in die Veertiger jare gallam-entstof beskikbaar gestel (6) het. Bek-en-klousiekte maak nie so seer die beeste dood nie, maar die kwarentyntyd maak dat mens geen inkomste het nie, want jy kan nie verkoop nie – soms tot ‘n jaar.
Hugo en broer Albert Lemcke was die eerste roomryers Gobabis toe. Hulle het transport gebring daar vandaan. Skielik het byna almal behalwe Mr. Burton, begin room stuur. Later het Chrisjan Lewis ook room gery. Saam met die room is kasein gemaak van die afgeroomde melk. Kasein was gebruik om plastiek mee te maak, deur die Romery. Die melk is in ‘n drommetjie dik gemaak en dan in ‘n sak opgehang totdat dit droog was. Party mense het water bygegooi om die suur uit te haal, want die kasein is gegradeer. Mense moes dit oopgooi om droog te maak, en dan is dit in goiingsakke vervoer. Om die (7) roomkanne heen-en-weer te vervoer en by die boere af te lewer was ‘n hele proses vir die drywers. Chrisjan Lewis het die gesegde gehad dat die mense nie kon saamwerk nie, want hul roomkanne kannie eers op die lorrie saam staan nie! Eers was die transport 1/- per kan, maar later baie meer toe die drywer by die plase moes inry. Omdat die room in die sonskyn vervoer is, het baie daarvan gekook. Melkers moes skoon werk. Die Vickerman broers het in Johannesburg skool gegaan. Hul ma Martjie was een van Theunis Kotze se kinders, en toe haar man sterf het sy op D’kar kom bly. Die seuns het toe vir Edmund Gower kom lorrie ry. Edmund se ma Lettie was ook ‘n Kotze gewees. (Ons het laat ‘60’s nog room gestuur, asook Bruno Lemcke en Lina Kotze, Lambert Vorster en andere) Die probleem was dat die koeie Sondae gemelk moes word en die werkers was onbetroubaar.
Die Dertigerjare was nogal ‘n troebele tyd – droogte, depressie en bek-en-klou. Hugo en sy broer Albert het darem gou herstel deur in ’37 te begin transport ry en vanaf ’38 het (8) hulle met ‘n tweede lorrie die boere se room aangery Gobabis toe. Terug huistoe het hulle dan gesmous en die Regerings bestellings vervoer. Die roomgogga het byna almal gebyt na die bek-en-kloutyd, want dit het kontant ingebring. Die Melkers kon vrylik afgeroomde melk drink en daar was genoeg om ook varke te voer.
Hugo en Grieta kon die bek-en-kloutyd goed onthou. Dit het Hugo minder geraak, maar die Van Stadens, Jan Burger en ou Magiel Taljaard onder andere het op die paaie gepik-en-graaf teen 1/6 per dag. Hulle rantsoene het mielies, kaboemielies, ingesluit en ‘n (9) doktor het ‘n klomp ou klere vir mense uitgedeel. Die drie jare van 1933-1935 was baie swaar. Die hele distrik is teen bek-en-klou ingeent, en die werk was darem ook vir party ‘n inkomste. Vanaf 1936 kon mense weer begin beestrek. Hugo en Albert het in die tyd in Ngamiland begin spekuleer teen 5/- ‘n os. Die vee is later afgejaag suide toe en oor die kwarantyn lyn gesmokkel en verkoop.
Nader aan die Vyftigerjare het baie mans gehelp span aan die kwarantynlyn by Kuke wat (10) Ghanzi van Ngamiland geskei het. Bruno Lemcke het met ‘n span bandiete oopgekap en die ander het net draad gespan teen tien pond ‘n myl.
Hugo het met draadspan ook die voortou geneem. Hy het ‘n kampie gespan om kalwers van koeie af weg te hou, seker vir die melkery. Draad was goedkoop, ‘n rol het 18/- (11) gekos en hulle het gereeld Gobabis toe gery. Die plase was nog nie opgemeet nie, en almal wat opgevolg het, het vereers net ‘n kampie gespan.
Volgens Albert Lemcke was die eerste plase, wat Cecil Rhodes uitgegee het (vgl. Russell en Russell), eiendomsplase. Hyself het eers in 1934 begin boer want enigeen kon ‘n (12) Regeringsplaas huur teen 5pond ‘n jaar. In 1940 het hy die helfte van ‘n plaas gekoop en verder net gehuur. Baie mense het na 1934 Rhodesie toe getrek, soos Dawid van Heerden (Cassie se pa) en Machiel Petoors.
Grieta was ‘n voorslag boervrou. In ‘n goeie jaar kon mense groente kweek en landerye (13) maak in Ghanzi se vrugbare grond. Maar min mense het belangestel om te ploeg, maar vir haar was dit heerlik om te weet sy het iets verrig as sy in haar geil land kon loop. Volgens haar het Dick Eaton en sy vrou Hilda groot landerye gehad, (1950) maar die Vickerman vrouens het nie belangestel nadat hulle een jaar probeer het en dit misluk het. (Dit moes na 1950 gewees het.)
Niemand kon of wou besproei nie en almal was afhanklik van die reën. Transport om kunsmis aan te ry was duur en om te ploeg moes mens branddstof koop. As die goed gegroei het, moes mens laat skoffel. Al die uitgawes was ‘n verkwisting as die reën weggebly het. Meeste mense saai darem vir eie gebruik, maar mielies en boontjies was (14) die enigste produkte wat geaard het. Hulle het nie afmakers gehad om die mielies te droog, en het hulle serellas gemaak en die koppe sonder blare daarin gegooi sodat die wind orals kon bykom. As die koppe droog was, het hulle dit met houte afgeslaan. Die gebruik van serellas kom eintlik van die Batswana af, die boere het dit afgekyk. Die geplukte boontjies is op seile gestrooi om goed droog te word, en is dan ook met stokke geslaan. Om die kaf uit te waai, is emmers vol boontjies teen die wind gehou en stadig uitgegooi. Die werkers het sommer die heel pitte gekook en met boontjies gemeng om te eet.
Daar was nie ‘n sekere soort saad nie. Almal het maar hul eie saad oor en oor gebruik. (15) Die eintlike Kafferboontjie kon bont, wit of swart wees en is deurmekaar gebruik. Later jare het almal die sogenaamde swartbekkie geplant omdat ‘n oes seker was. Volgens Hugo was dit in die RSA onbekend. Die Witmense het mielies vir pap in hul koffiemeulens gemaal.
Albert Lemcke het vertel van perdesiekte, wat dikwels voorgekom het. Selfs ongeleerde perde, wilde perde wat perdesiek gekry het, het huistoe gekom. Voordat entstof daarteen (16) beskikbaar geword het, het baie perde elke jaar gevrek. Die entstof was sedert 1930 beskikbaar gewees. Party mense het gedink nat gras of muskiete was die oorsaak en hulle het stalle gebou en perde eers na die dou soggens uitgelaat. Maar nogtans het baie perde of oorleef of gevrek.
Iewers het ek al spinkane behandel, maar ek herhaal dit as deel van boerdery. Hugo Lemcke onthou dit toe hy omstreeks 1930 en tydens die droogte aanvalle ervaar (17) het. Omdat hy en broer Albert ander werk kon doen en alhoemeer transport gery het, het hulle nie juis self sprinkane bestry nie. Maar armer boere was eintlik bly oor invalle, want die Regering het mense gehuur om gif te spuit – vandaan die woord spinkaanspuit. Leiers soos Chrisjan Lewis en Arthur Burton was die “howe,” die organiseerders, en het goeie geld verdien. Grieta Lemcke was baie jonger as Hugo, en kon onthou hoe swerms ‘n land aangeval het. Die wat al kon vlieg was makliker om met rook te verdryf, want hulle het verder gevlieg. Maar die voetgangers was die probleem omdat mens hulle nie kon stuit nie en hulle alles gevreet het. As hulle gehoor het ‘n swerm is op pad, het hulle slote gegrou rondom die landjies. Dan het die voetgangers daarin geval en kon vernietig word. Maar as die slote vol was het die springkane dood eenvoudig oorgeklim en verder gegaan. Hugo was filosofies, “dit was nie rerig ‘n plaag nie, want die wereld was groot en oop en daar was genoeg weiding vir al die vee.” (Ek onthou in die ‘70er jare het ‘n helicopter op NL183 by die kraal kom sit tot ons almal se verbasing. Mens het gedink aan ruimte besoekers! Hulle wou weet of ons enige sprinkane gewaar het. Iewers in Botswana was daar ‘n uitbraak en die Regering wou voorbereid wees. Maar ons het nie so iets beleef nie.)
Hugo het van twee beessiektes vertel – miltsiek en sponssiek. Vir miltsiek kan ‘n mens ‘n rosyntjiebessielat afpluk en die blare, maar nie die bas nie afstroop. Dan slaan ‘n mens (18) die bees aanhoudend oor die rug met die lat totdat bloedkolletjies uitkom. Daardie bees sal nie vrek nie. Sponssiek het ‘n bees vinnig laat vrek. Die dier het opgeswel en gestink. Daar was ‘n paar rate bv. ‘n bokram insit (?) maar wat werklike gehelp het was om die kalwerkraal te skuif.
Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude met:
(Bladsy 336 – 345)
(1) (O II 9) Hugo Lemcke
(2) (O II 10) Hugo Lemcke
(3) (O II 10) Hugo en Grieta Lemcke
(4) (R II 6) Hugo Lemcke
(5) (V I 10) Lena Lemcke
(6) (S I 2) Hugo Lemcke
(7) (S I 6-7) Hugo Lemcke
(8) (R I 2) Hugo Lemcke
(9) (S I 1-2) Hugo Lemcke
(10) (S I 5) Hugo Lemcke
(11) (S I 5) Hugo Lemcke
(12) (T I 3) Albert Lemcke
(13) (S II 8-12) Grieta Lemcke
(14) (S II 8) Grieta & Hugo Lemcke
(15) (S II 9-10) Grieta & Hugo Lemcke
(16) (U II 5) Albert Lemcke
(17) (P I 10-11) Hugo Lemcke
(18) (P I 2) Hugo Lemcke
Ander Ghanzi
webblaaie
Het jy enige kommentaar oor die stuk?