top of page

KOTIE CRAILL neè Burger

ALLE REGTE VOORBEHOU

Geen gedeelte van hierdie materiaal mag sonder die skriftelike verlof van die samesteller

op enige wyse gereproduseer of weergegee word nie.

 

 

KOTIE CRAILL neè Burger, JUNIE 2016.

 

Vraag: Tannie Kotie, jy was die jongste van die Burger kinders?

KC: Ja, en die langste gelewe.

 

Vraag: Was Tannie ‘n laatlammetjie of net die jongste?

KC: Nee, ek was net die jongste kind.

 

Vraag: En Tannie se ma, tannie Annie Burger, het sy hier by Tannie gebly in die latere jare?

KC: Toe sy oorlede is was sy in my huis, maar sy het eintlik by my suster hulle gebly. Toe sy siek geword het, sy het suikersiekte gehad, toe het sy in ‘n koma gegaan, toe was sy hier en is sy toe hier oorlede.

 

Vraag: Sy was mos ‘n vroedvrou, was sy nie?

KC: Ja, sy het baie-baie kindertjies hier in Ghanzi in die wêreld ingebring. Baie boesmans, swartes, wittes … maak nie saak nie … dit het nie vir haar saak gemaak nie.

 

Vraag: Het sy haarself sommer geleer of was haar ma ook ‘n vroedvrou?

KC: Ek dink nie so nie, sy het sommer haarself dit gedoen. My ouma was ‘n baie stil vrou gewees.

 

Vraag: Wat was haar nooiensvan?

KC: My oorlede ma was ‘n Kotzè. Oom Theunis Kotzè was haar broer en Tant Martie, die Vickermans se ma, was ook haar suster.

 

Vraag: Was sy nie die eerste Theunis Kotzè wat van Godonia af ingetrek het se dogter nie?

KC: Ja, ou oom Theunis (Tika) Kotzè.

 

Vraag: Die oom Tika Kotzè is die een wat van Mier af gekom het?

KC: Die Kotzè’s het almal daarvandaan getrek.

 

Vraag: En die Burgers?

KC: En die Burgers.

 

Vraag: Op dieselfde trek?

KC: Ek dink amper so.

 

Vraag: Hulle het mos eers op Lehututu oorgestaan?

KC: Ek kan jou nie eintlik daarvan iets vertel nie. Die Vickermans se ma was Tant Martjie en die Taljaards, Hannes se ma, sy was Aunt Lettie. En dan was daar nog ‘n suster Mita, maar sy’s met klein Koos se geboorte oorlede … sy was by my ma gewees. Oom Gert Kotzè was ook my ma se broer.

 

Vraag: Met wie was sy getroud?

KC: Met oom Koos Taljaard, die ou oom Taljaard van D’KAR se seun.

 

Vraag: Wie se kinders is op hierdie foto?

KC: Sannie en Maria Kotzè, dit was oom Gert Kotzè, my ma se broer se twee dogters. Hulle broer was Willie, jy mag hulle dalk onthou … hulle het in Namibië skool gegaan.

 

Vraag: Ek onthou toe ek  in standerd 6 was … was hulle ma nie die koshuis tannie nie?

KC: Nee, aunt Martjie Vickerman het in die koshuis gewerk hier in Ghanzi.

 

Vraag: Oom Henry Vickerman het gister vertel van die Craill broers, elkeen van hulle was so begaafd. Oom Wallis wat kon skilder, Oom Cecil wat met ysters kon werk en kon toor met ‘n enjin en Oom Adam was ook goed, hy weet net nie hoe en waar nie, seker maar met besigheid.

KC: Ja-nee, Cecil het parte gemaak. As hy nie ‘n kar kon regkry nie het hy die parte self gemaak en ingesit.

 

Vraag: My pa het net in Oom Cecil geglo, hy het met hierdie bakkie rondgery wat groen en rooi en blou parte gehad het, alles wat Oom Cecil gemaak of gehad het.

KC: Ja, en as jy nou net so verby ry sal hy luister en sê dit is fout in daai kar.

 

Vraag: Vertel ons bietjie van die vliegtuig wat Oom Cecil opgebou het?

KC: Ja, dit was ‘n regte enjin van ‘n vliegtuig wat hy oorgebou het.

Tilla Mueseler (haar dogter): Die oormaak ding … daar het eendag ‘n hael storm gekom en die vliegtuig wat van materiaal was vol gate geslaat, want die hanger het mos nie ‘n dak gehad nie. Hy het daai gate so “gepatch” met materiaal en net so gevlieg.

KC: Die tweede vliegtuig was met materiaal oorgetrek, maar die eerste enetjie wat hy gekoop het was metaal gewees.

 

Vraag: Hy het die vliegtuig lank gevlieg, het hy nie?

KC: Die eerste enetjie het hy op geleer vlieg. Hier was ‘n ou Duitser van Namibië wat die pos van hier na Mafikeng toe gevlieg het elke week en hy het vir Cecil sover gekry om die vliegtuig te koop en hom geleer vlieg hier met daai rooi vliegtuig. Toe hy nou dink hy is reg toe vat hy hom Pretoria toe na Wonderboom, waar hy hom gelos het. Na die negentiende dag toe kom vlieg hy hier oor, toe het hy sy kursus klaargemaak daar. Hy mag nie deur die Kalahari alleen gevlieg het nie, hy’t oor Francistown en Maun ingekom. Met daai vliegtuigie het hy mos Piper Pans ontdek. Hy het die District Commissioner van Mafikeng daai tyd opgelaai en hulle het gaan tee drink in Piper Pans.

 

Vraag: Ja, dis waar, dit is hoekom daardie pan se naam Piper is.

KC: Ja.

TM: … en dan is daar Craill’s Pan, hy is net bietjie duskant toe.

 

Vraag: Kan Tannie Kotie iets onthou van wanneer die Craills ingekom het en hoekom?

KC: Oom Cecil se pa, Tinkie Craill was al in 1943 - 1944 hier gewees, want hy was geskei met ‘n vrou in Upington en toe het hy hiernatoe gekom. Toe Cecil standerd 8 klaar gemaak het in Upington toe’t hy ook hiernatoe gekom. Ek is nie seker of Wallis daai tyd gekom het of later gekom het nie. Cecil het toe by sy pa gekom bly en hulle twee het transport gery van Gobabis af deur tot in die valle (Victoriavalle), mense gevat en terug, en is hy later met Tannie Koba getrou. Sy was eers Oosthuizen en is eers na Cecil se pa oorlede is met oom Appel Kuhn getroud.

 

Vraag: Toe ek haar geken het was sy Kuhn, dan was sy Oom Cecil se stiefma toe hy al uit die skool was.

KC: Toe Tinkie van Upington af gekom het, het hy met ou Oom Taljaard se dogter Grieta getrou. Hy het hierdie huis vir hulle gebou waar Annie Lambert gebly het. Hy was met haar getroud en sy het drie kindertjies gehad en met die laaste kindjie se geboorte is sy ook dood, maar al haar kindertjies het nie gelewe nie. Dis toe dat hy alleen is en toe met Tannie Koba getrou het.

 

Vraag: Het sy daai tyd al transport gery?

KC: Ja, toe het sy al saam met hulle gery.

 

Vraag: Het hulle nie ook Vic Falls toe gery nie?

KC: Ja, hulle het baie soontoe gery. Ons was ook eenkeer saam met hom gewees, toe was ek nog nie getroud nie. Ek en Cecil en Karel Weyhe, Elize Weyhe se man wat skool hier gehou het vroeër jare, ons was eenkeer saam valle toe. Dit was die eerste keer wat ek daar gekom het.

 

Vraag: Was Elize Weyhe van Ghanzi?

KC: Sy is hier gebore gewees, sy is oom John en Martjie Lewis se dogter en Manie Lewis-hulle se suster. Hulle was ses kinders, sy en Santjie was die twee dogters en Christiaan, Manie, Jan en Joey was die vier broers gewees.

 

Vraag: Ons was gister by oom Piet and tannie Hilda Lewis en hy sê sy oupa Christiaan Lewis was voor die Drotsky intrekkers al hier in Ghanzi gewees en dat sy pa, Oom Joey Lewis hier gebore is.

KC: Oom Piet se oupa Christiaan Lewis het drie seuns gehad, Oom Louw, Oom Christiaan en Oom John. Oom Louw Lewis was Joey, Koos, Piet, Fanie en Chrisjan se pa gewees. Chrisjan is in die Kalahari oorlede. Ou oom Chrisjan het net een seun gehad, klein Crisjan het ons hom genoem, en vier dogters, Maria, Sannie, Annie, Grieta en Lena.

 

Vraag: Was oom Tinkie Craill ook so handig soos Oom Cecil of was hy meer kunstig soos Oom Wallis?

KC: Hy was meer soos Cecil gewees, hy kon ook met karre en goeters werk.

 

Vraag: Oom Wallis, hy het toe nou nog in Suid-Afrika agtergebly?

KC: Hy het daar gebly en is later Buitendag toe na sy suster toe waar hy gaan skool klaarmaak het en toe het hy eers later gekom.

 

Vraag: Sy kunstenaar streep, is dit iets wat van kleinsaf gekom het?

KC: Toe ek hom ken het hy dit al gedoen.

 

Vraag: Ek het nog ‘n paar borde wat hy geskilder het, hulle is baie mooi.

KC: Ek het ook nog borde van hulle …

TM: Aaagh, wil jy nie terug kom nie, hier langs my ma kom bly?

Willemien: Ek sal so graag wil. As ek so rondry dan kom daai herinneringe weer op. Ons het verskriklik lekker hier gebly by julle, maar die ander rede was omdat Tannie Kotie so lekker kon kook. Hier het elke dag vars brode uit hierdie huis uitgegaan, dan kom ons van doer anderkant om kamstig ‘n brood te kom koop dan kry ons dit maar. Dit was rêrig lekker dae gewees …

 

KC: Toe ons hier kom bly het was ons eerste water ‘n put wat oom Taljaard gegrou het, hy het ‘n rol opgehad. Ons het hier gebly toe het oom Thys Taljaard hierdie huis vir Aunt Martjie (Vickerman) gebou, toe het sy hier by my gebly.

 

Vraag: Die tyd wat Tannie skoolgehou het, het oom Johannes Taljaard by jou skoolgegaan?

KC: Sy bynaam was Tarzan, ek dink amper hy het by my skoolgegaan … oom Paul Kotzè  se vier seuns het by my skoolgegaan, Tokman-hulle, Jaap en Maria en Annie Lambert en Joey en Jan Lambert ook, en Annie Wallis, Fanie Kotze se dogter wat my ma-hulle grootgemaak het. Ek het lekker skoolgehou en so R20 per maand gekry. Ek dink amper die Regering het ‘n gedeelte vir my gegee en die ouers die ander bedrag. Ek het vir hulle vanaf 1946 - 1949 skoolgehou. Toe’t hulle die skool in Ghanzi oopgemaak en Karel Weyhe en Cyril Harber het vir hulle skoolgehou. Van Joop-hulle se kinders het op ou D’KAR gebly en ook by my skoolgegaan. Oom Piet Lewis, Joey se broer, van sy kinders het ook by my skoolgegaan … hulle het altyd van ou D’KAR af gestap soontoe. Hulle het een klaskamertjie vir my gebou.

TM: Nou waar was die klaskamer?

KC: Daar voor die huis net so bietjie links van die pad, dit was aan die voorkant van die pad gewees. Annie, Joey en Jan Lambert het by my skoolgegaan en is later Ernst Meyer toe in Gobabis. Sy vertel my nou die dag toe hulle in Ernst Meyer kom toe is hulle die enigste kinders wat hulle 12 x tafels ken.

 

Vraag: Oom Johannes (Tarzan) Taljaard het in ‘n stuk wat hy geskryf het oor sy familie se geskiedenis, “Nalatenskap van die Dorslandtrekkers”, met soveel lof verwys na Tant Kotie as sy onderwyseres en hoe goed dit in daardie skool was. En hoe goed skryf hy nie! Dit was nie net sommer so skooltjie nie, Tannie was ‘n baie goeie onderwyseres.

KC: Ek het vir hulle goed skoolgehou. Later het hulle mos in Ghanzi skoolgegaan en toe het Johannes, Magiel, Baba en Johan van die skool af weggeloop hier D’KAR toe. Ek sien nog daardie môre hoe jaag oom Thys vir Johan om hom in die hande te kry om hom ‘n pakslae te gee.

 

Vraag: Het Tannie vir ou Midgley geken?

KC: Ja, ek is by hom getroud, hy was die Magistraat hier.

 

Vraag: Toe het Tannie opgehou skoolgee en Karel Weyhe en Cyril Harber het skoolgehou op Ghanzi?

KC: Ja, en later het Mnr van der Walt se skoonseun van die Namibiese kant af gekom en verder skoolgehou vir hulle.

 

Vraag: Oom Piet Lewis het vanmôre vir ons vertel dat Karel Weyhe eintlik die skool toegemaak het toe dit nou oorgaan na die Regering?

KC: Miskien is dit waar want Elise Weyhe se ma Martjie het in die koshuis gewerk en sy het nie bedank nie en het drie maande nadat die skool al toe was nog haar volle salaris gekry.

 

Vraag: Tannie Kotie, terug by die Burgers en die Kotzè’s wat saam ingetrek het, Tannie se pa was al daar getroud?

KC: Ek het gehoor dat hulle het al kinders gehad het toe hulle hier gekom het, want Betsie het vir my gesê my suster was in 1915 gebore.

 

Vraag: Tannie se pa-hulle het ongeveer daardie tyd getrek,die Godonia trek?

KC: Andries Burger, my pa se jongste broer se seun wat ‘n paar jaar terug oorlede is, het baie hier vir ons kom kuier, van Askam af so-om gery, en hy’t altyd vir ons gesê in Lehututu se pan lê daar nog van die wa spore soos hulle vroeër hiernatoe gekom het.

 

Vraag: Toe hulle hier aankom het hulle seker nie dadelik plase gekry nie?

KC: My pa het toe by oom Chrisjan Lewis op een van sy plase gebly, so duskant Kgoutsa. My susters het daarvanaf elke dag vyf myl met donkies Kgoutsa-skool toe gery en vyf myl terug, daar by Oom Chrisjan. Daar was ‘n Mnr du Toit wat vir hulle vroeër skoolgehou het. Daar was ‘n Mnr Weideman toe ek daar beginne skoolgaan het. Ek was daar net vir ‘n jaar of twee toe is ek en my broer skool toe op Gobabis in Namibië. In standerd 6 is ek uit Wennie du Plessis uit.

 

Vraag: Dit was dan so ver?

KC: Ons het nie eers 10-dae vakansies huis toe gekom nie, ek weet nie by wie het ons gebly nie. Ons het altyd met Oom Tinkie of Oom Albert wat transport gery het saam hiernatoe gekom.

 

Vraag: Tannie het toe daar skoolgegaan en toe hier kom skoolhou.

KC: In 1945 is ek daar weg.

 

Vraag: Die Burgers en die Kotzè’z het hulle self op Eersterus gevestig?

KC: Nee, my pa het daar by Oom Chrisjan gebly tot hulle plase gekry het, toe’t hy eers Uitkoms toe getrek. Oom Jan Kotzè het mos op Eersterus gebly en eers later Rusplaas toe getrek. Oom Sarel was my pa se broer, hy’t hier duskant Eersterus gebly.

 

Vraag: Is dit nou oom Willie Burger se pa?

KC: Ja

 

Vraag: Tannie Maria & Fanie het waar gebly?

KC: Hulle het op Mooigenoeg gebly. Ons het met die perdekar altyd naweke huistoe gery. Ons het hier langs Lettie Taljaard gebly. As die skool Vrydag sluit het oom Fanie vir ons die perdekar gestuur.

TM: En so het hulle geparty ook, vertel bietjie vir ons …

KC: Sommer hiervanaf met die perde Kgoutsa toe gery en daar gaan dans, ek en Theunis Gower en Stefaans Taljaard en Irene, ons het altyd met die perde gery. Miskien het ons daar geslaap dink ek.

 

Vraag: Wie is Irene?

KC: Sy was oom Thys Taljaard se dogter gewees. Dit was Theunis & Edmond Gower se suster gewees. Hulle ma was eers met ‘n Gower getroud,  toe’s hy oorlede en toe is sy later met Taljaard getroud.

 

Vraag: Wat was Irene se ma se name gewees?

KC: Dit was Tant Lettie Kotzè, sy was my ma se suster gewees. Sy het vier kinders van Gower gehad, Edmund, Theunis, Tiekie en Irene.

 

Vraag: Ek het in 1980 ‘n onderhoud gedoen met oom Thys Taljaard en toe het hy vertel hoe lief was hy vir haar en hoe ‘n goeie vrou sy was en hoe lief sy was vir haar broer Jan Kotze en hoe hulle twee saam die winkel op Lehututu bestuur het?

KC: Hulle het altyd vir hom gesê Jan “Kontant”.

 

Vraag: En ook hoe hartseer sy was toe hy nou met Tannie Hedwig getroud is?

KC: Ek dink hulle almal was nie tevrede met dit nie. My pa se broer ook.

 

Vraag: Weet Tannie wat vir my mooi is van die geskiedenis is nogal dat ou oom Theunis Kotzè dit nie sommer net toegelaat het nie, hy het eers seker gemaak deur vir Totius by die Teologiese skool in Potchefstroom ‘n brief te skryf om te vra of die Bybel iets teen die troue het waarin Totius geantwoord het dat die Bybel geen beswaar het teen die troue nie. Dit was vir my belangrik gewees en het gewys die ou mense was ernstig, hulle wou die regte ding doen. Dit was seker nie maklik vir die familie nie en het ons dit self beleef toe ons later hier gekom het, hoe moeilik dit was vir almal. Was oom Gert Kotzè nie ook met ‘n bruin vrou getroud nie?

KC: Ja, hy was ook met ‘n bruin vrou getroud gewees.

 

Vraag: Maar dit is nie haar twee kinders by oom Gert Kotzè wat ons vroeër op die foto gesien het nie?

KC: Nee, Oom Gert was eers met ‘n Thomas vrou getroud … hy en Oom Fanie was met twee susters getroud gewees. Hulle ouers het op Olifantskloof gebly en hulle pa was ‘n Engelsman gewees.

 

Karel Kotze se vrou was Joey gewees en ek weet nie of hulle uitmekaar is of geskei is nie, maar Joey is toe saam met haar dogter wat tweelingkindertjies gehad het weg Suid-Afrika toe en het nooit weer terug gekom nie. Laaste toe ek gehoor het was hulle nog daar.

 

Vraag: Van watter familie was Joey Kotzè?

KC: Sy was van Suid-Afrika af dink ek, sy was nie van Ghanzi se mense nie.

 

Vraag: Karel en Hannes Kotzè was wie se kinders gewees en met wie was oom Willie Kotzè getroud gewees?

KC: Karel & Hannes was oom Isak Kotzè se kinders en Willie was met Karel se dogter getroud gewees. Hy en Karel se dogter het tweelingdogtertjies gehad en Joey het daardie kinders grootgemaak.

 

Vraag: Vertel vir my meer van Oom Cecil se lewe, want hy was ‘n besonderse man gewees.

KC: Hy het ook baie siek mense hier uitgevlieg toe hy die vliegtuig gehad het. Hy het vir suster Vize Xade toe gevlieg dan gaan dokter sy die boesmans daar. Hy het eendag vir Wynand Swartz Maun toe gevlieg en een van die Vickermans uitgevlieg Gobabis toe … hy het baie mense hier uitgevlieg.

 

Vraag: Hy wou ook nooit geld gevat het nie?

KC: Ja, hy het baie ouens se karre gewerk en nooit geld gevra nie.

 

Vraag: My pa het altyd gesê jy moes stry om vir Oom Cecil geld te gee?

KC: Nadat hy siek geword het, het hy mos nie so baie gewerk nie en wou hy nie aan die Ford-karre werk nie. Hy het altyd gesê die Ford karre met die blink “bumpers”, hy werk nie aan hulle nie.

 

Vraag: Oom Cecil het toe siek geword?

TM: Met sy laaste siekte het ons toe besef hy het vroeër jare beroerte gehad waarvan niemand geweet het nie.

KC: Hy was half deurmekaar gewees vroeër jare, loop sommer so in die veld in en praat met homself en dan kom hy weer terug. Meeste van die tyd het hy maar net gewerk, hy het nooit gaan sit en opgegee nie, net aangegaan. Hulle het in Windhoek ‘n brein scan van hom gevat, hy was die eerste pasiënt op hulle eerste brein scan masjien, en toe sien hulle die kolle. Toe het hy eendag siek geword en toe vlieg Dunhauser hom uit Gobabis-toe. Daai Saterdag aand toe kom ek by hom in die hospitaal en sien hoe gaan hy in ‘n koma in. Dr Nel het hom die volgende dag Windhoek toe gestuur met die ambulans. Oom Thys Taljaard was ook nog daar want hy het suikersiekte gehad. Hy is toe na Dr Oosthuizen in Windhoek, waar hy twee weke in ’n koma was voor hy bygekom het. Later het hy bietjie reggekom en toe het Dunhauser ons weer terug gevlieg hiernatoe.

 

Daarna het hy nog lank aangegaan tot die oggend wat ek vir jou en Braam gebel het en julle hom Ghanzi toe geneem het. Gavin, Vickey se man, het hom die volgende dag uitgevlieg Windhoek toe en het die dokters daar gesê dit is malaria wat hy het. Hy was nie lank in die hospitaal gewees nie toe kom ons weer teruggevlieg Ghanzi-toe. Die laaste keer wat hy siek was toe vat ek en Hartmud hom weg vir ‘n check-up. Daardie Maandag moes hy die dokter sien en toe lê ons nog op die bed en hy wou nog ‘n glas koeldrank vat om te drink toe “pass” hy uit. Die dokters wat hom gesien het, het gesê dit was sy hart. Die Dinsdag môre toe gaan ek en Corrie so tien-uur toe staan en skeer hy vir hom en toe ons sewe-uur weer vir hom gaan sien het toe is hy al ses-uur weg. Hy het net so gelê en TV kyk toe raak hy weg. Ek sê ook dit was genadig gewees …

 

Vraag: Tannie Kotie het so mooi vir hom gesorg, spesiale kossies vir hom ingepak. Hoeveel jare was dit vandat hy nou beginne so deurmekaar raak het dat Tannie vir hom so gesorg het?

KC: Dit was lank gewees, maklik ‘n dertig jaar of so.

TM: Dit was voor my geboorte gewees, ek ken hom maar soos wat hy was. Hulle het gedink hy is mal, hulle wou hom Weskoppies in Pretoria toe vat …

 

Vraag: My pa het altyd gesê, “Julle, maar hierdie man is baie slim, hy verstaan alles wat almal sê, hy speel net met julle want julle dink hy is mal”.

TM: Toe was dit al die tyd beroerte wat niemand daardie jare kon opspoor nie. Na sy laaste groot siek het hy dalk weer ‘n beroerte gehad, want toe het hy weer ‘n groot “personality change” gekry. Gloudina se troue was die enigste troue wat hy toegestem het voor en na toe gegaan het. Hy het ook weer begin vleis eet.

KC: Hy het sommer net opgehou vleis eet, niks vleis geëet nie.

TM: Toe was hy nou vegetariër soos al die tyd wat ek hom geken het en toe met die laaste siek het hy weer gedraai. Hy het geweier om sy medikasie te vat, ons moes maar sy pille sommer so op sy broodjies en tussen die kos weggesteek.

 

Vraag: Wat het toe van Tannie Koba geword … is sy weg of is sy oorlede?

KC: Sy is toe met oom Appel Kuhn getroud nadat oom Cecil se pa oorlede is. Sy het ‘n swaar lewe saam met Oom Appel gehad. Na sy dood is sy terug Gobabis toe waar sy weer met ‘n ander oom getrou het wie se naam ek nie meer kan onthou nie. Sy is toe daar in Gobabis oorlede.

 

Vraag: Maar oom Adam-hulle het eers toe later ingekom?

KC: Ja, hulle het eers later ingekom.

 

Vraag: Tannie sê Tannie se ma het vir tant Annie Wallis grootgemaak?

KC: My ma het haar grootgemaak en Oom Thys Taljaard se Aunt Lettie het vir Theunis, Jim en Mita grootgemaak.

 

Vraag: Wat het nou weer daar gebeur?

KC: Hulle pa en ma is uitmekaar, hulle pa het ook so geraak dat hy nie sy familie kon versorg het nie, toe het my Oupa Kotzè-hulle hom vir vir Edmund gegee en hy het hom in versorging geplaas in Bloemfontein. Toe het sy dogter Annie Wallis en Theunis haar broer hom later gaan haal in Bloemfontein en oom Fanie het by haar gaan bly totdat hy oorlede is.

 

Vraag: Tannie verbaas my met hoe helder jou  verstand nog is, Tannie is nou hoe oud?

KC: 86 jaar.

 

Vraag: Dit was in die 60’s wat tannie Annie Burger oorlede is en het oom Jan toe  by Tannie Maria gaan bly?

KC: My ma is eerste oorlede en toe my pa oorlede is was hy by tant Lettie gewees.

 

Vraag: Ek het Oom Jan nog goed geken, hy kon so mooi musiek maak.

KC: Hy kon orrel speel ja.

 

Vraag: Wie in die familie kon nog orrel speel?

KC: Lettie kon ‘n bietjie gespeel het.

 

Vraag: Ons het mos altyd kerk gehad agter op my pa-hulle se ou stoep. My ma het daai orreltjie gebring wat nou in my sitkamer staan en dan het oom Jan agter hom ingeskuif en gespeel.

TM: Maar so het hy ook maar gesit en nooit gepraat nie. Ek sien hom hier by die huis op die stoep sit.

 

Vraag: Wat beteken Semumu?

KC: Nee ek weet nie, dit was sy bynaam gewees. Oom Kassie van Heerden se bynaam was weer Tamagha wat beteken bont.

TM: Seker al daai sproete …

 

Vraag: Het Tannie hulle ooit in Maun gebly?

KC: Ons het in Maun gebly. Ons is hier in Ghanzi getroud en toe is ons Maun toe. Voor ons getroud was het Cecil vir die TFC gewerk en toe het ons omtrent twee jaar daar op die rivier gebly. Toe het ons terugkom en hy het eers bietjie hier by sy pa gehelp en toe in DKAR begin … ‘n garage van sy eie begin. Hy het sommer eers so onder ‘n ou lorrie se sinkdak gewerk en toe het hy later vir hom hier ‘n plek opgesit.

 

Vraag: Die Taljaards het mos stukke afgesny rondom D’KAR, is dit nie vir elke kind gewees nie?

KC: Ja, my stuk, hierdie plot, is nog van Hendrik se stuk af afgesny. Dit was Miek se grond gewees, hy’t vir my hierdie stuk gegee. Ek weet nie van wie was Aunt Martjie se grond gewees nie, seker maar Oom Thys.

 

Vraag: Dit het latere jare aan die Vize behoort, ons het dit gekoop?

TM: Hierdie een net hier langsaan?

WlR: Ja.

KC: Wynand-hulle en oom Booy het hier gebly, maar toe het hulle nog nie besigheid gehad nie, eers later toe hulle verkoop het seker aan ou Wally …

TM: Maar Carla-hulle het tog daai klein winkeltjie gehad met die bottelstoortjie.

 

Vraag: Tannie se kinders is almal hier gebore?

KC: Corrie en Marina is op Uitkoms by my ma-hulle gebore. Sy het hulle gevang en dieselfde tyd het Theunis Gower se meisiekind ook daar gelê, sy is net vier dae voor Corrie gebore. Met Tilla het ons die nag hospitaal toe gery en is sy ses-uur die oggend by suster Vize gebore. Gloudina moes ons in die nag suster Vize gaan haal het en is sy daar in  my sitkamer gebore.

 

Onderhoud van Willemien le Roux met Kotie Craill neè Burger

(Opname KC1, KC2, KC3)

Ander Ghanzi
webblaaie

as jy enige kommentaar oor die artikel het.

bottom of page