top of page

LOOIWERK EN LEER PRODUKTE

(1) Albert Lemcke het verstaanbaar vertel hoe mense vroeërjare gelooi het.

‘n Mens kon enige varsgeslagte vel in kalkwater gooi totdat dit haaraf gaan. As gevolg van die kalk het die vel dikker geswel. As die hare af is, word die vel vir ‘n paar dae in vars water gelaat sodat baie van die kalk kon uittrek. Dan het mense ‘n kuip gebou, omtrent net so groot soos die vel. Vir looistof het hulle elandsboontjie wortel gegrou en fyn gestamp. Onder die vel en bo-oor word ‘n laag van die gestampte rooi wortel gegooi. Dan word die kuip met water gevul en gelaat vir 2-3 weke. Daarna word die hele proses herhaal met vars elandsboontjiewortel. Dit duur totdat die vel deurtrek is, dat daar nie meer rou vel tussendeur is nie. Die hele proses duur 2-3 maande. Hoe dikker die vel hoe langer neem dit. Dan word die vel uitgehaal en met ‘n graaf uitgestoot of met die hande uitgerek. Die vel word vetgesmeer met room of vet en so ‘n bietjie gebrei – en dan is dit leer.

Die meerderheid mense het elandsboontjie gebruik, maar geelhoutwortels het ook gewerk. Sommige mense het blou leer met vitrioel(i) gemaak, miskien met sout daarby.

Van die leer is heelparty produkte gemaak: perdetuie, donkietuie, velskoene, tooms en halters, osrieme, spantoue, selfs twaksakkies as die leer dun genoeg was. As ‘n saal sleg was, kon mens dit met leer oortrek. Saalkussings is ook gemaak van leer.

Die Swartes het klere ook gemaak, maar die leer is gebrei, nie gelooi nie. Die velle is dan geskraap om die hare af te kry. Die vel is gespalk en het hulle ‘n soort beitel gebruik om die hare te verwyder. Die vel was dan droog en is dunner geskraap waar dit te dik was. Dan word die vel nat gemaak en gebrei. Daarna word die vel ook met elandsboontjie gelooi, maar nie in water geweek nie. Na die proses word ‘n patroon uitgesny en gewerk. Breiwerk is met die hande gedoen, ook in tiervelle en ander produkte waar die hare behou is. Die looiproses was veral gebruik om motte en goggas weg te hou.

(2) Kassie van Heerden het vertel van die sterk skoene wat hulle gemaak en op Tsau gaan smous het. Dit was nie regte velskoene nie, want hulle het die sole met spykers vasgeslaan. Koedoevel was die beste oorleer(ii), maar hulle het ook beesvel en hartbeesvel gebruik. Meeste boere het hul eie bo-leer of oorleer gemaak. Hulle het leeste(iii) gehad, soms self gemaak ook soos Kassie se pa. Die leeste was nie genommer nie, mense het maar die voete gemeet. As die kliënt ‘n volgroeide man was, het sy pa sommer oor die brug van die voet gemeet, want dit is dieselfde lengte as ‘n mens se voet.

Kassie het ook die looiproses verduidelik. Die vel word kalkgaar gemaak tot die hare afgaan. Dan word al die hare afgeskraap. ‘n Mens het maar elke tweede dag gekyk of die hare loskom. Na die hare-afmaak word die vel in skoon water uitgewas vir 4-5 dae. Dan word die vel in fyngestampte elandsboontjie gelê en elke môre omgeroer tot die vel gekleur is. Dan word die vel oopgestrek met elandsboontjie bo en onder. Dit word elke tweede week herhaal totdat die vel op die dikste plek deurgelooi is.

Behalwe skoene het hulle ook donkietuie en toms gemaak. As ‘n saal se sit stukkend was het hulle skaapleer of duikerleer gebruik om oor te trek. Karosse(iv) is meestal by die Swartes gekoop of geruil.

(3) Hulle het baie rieme gemaak van velle na ‘n jagtog. Dis ook gebruik in oorlere en skoensole. Die rieme is betyds gemaak om in Lobatse en Mafikeng te gaan verkoop, waar daar ‘n groot aanvraag was. Eland- en wildebeesvelle was die beste geskik vir rieme. Andersins het hulle nie eintlik handel gedryf met velle nie totdat die McIntyre wat saam met Burton en Malone ingekom het, begin opkoop het - enige klein velletjies soos jakkalsvelle tot beesvelle.

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude van Willemien le Roux met:

(Bladsye 93-95)

 

(1) (U II 1-3) Albert Lemcke

(2) (I I 7-8) Kassie van Heerden

(3) (J II 3-5) Kassie van Heerden

 

 

(i) Kopersulfaat, swawelsuur

(ii) Sagte, buigsame leer vir boonste deel van skoen.

(iii) Skoenvorm meestal van hout vir die maak van skoene.

(iv) Kombers of deken van diervelle gemaak, velkombers.

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page