top of page

SKOLE & ONDERWYSERS

Print asb uit en deel met familie   & vriende

Het jy enige kommentaar oor die stuk?

Besonderhede oor skole is onsamehangend. Behalwe dat Ds. Conradie na die

1905 intrek lank gebly en skoolgehou het, kan mens aanvaar dat die eerste skooltjies in Kgoutsa se omgewing was. Dis veral moeilik om die volgorde van onderwysers te bepaal uit die herinnerings. Ek veronderstel die onderwysers voor die 30’erjare het Hoog Hollands aangebied en daarna tot na Independence seker Afrikaans, maar ek weet nie.  Ons weet ook niks van Xanagas en Olifantskloof se kinders nie. Regeringskinders is vermoedelik weggestuur na Engelse kosskole.

 

Die Burger kinders (na 1918 of 1921) moes byvoorbeeld soggens en smiddae 5 myl ver donkiery of loop skooltoe, waar Lenie Lewis (gebore Drotsky) hulle kos gegee het voor die tog terug huistoe. (Dink maar hoe moes wegloopdonkies gesoek word.)

 

Later was daar ook ‘n skool op D’KAR en na 1950 die mooi geboue op Ghanzi.  Nog voor Onafhanklikheid in 1966 is sommige kinders reeds na Mafikeng, Zeerust en Gobabis gestuur vir skoling. Dit was algemeen gedoen na 1966 en die geboue is verwaarloos.

 

Hugo Lemcke het vertel dat Sam Silber, die boerejood van Gobabis wat baie Ghanziboere ook gehelp het tydens die bek-en-kloujare, vir ‘n paar skooltjies in Gobabis en Windhoek seker onder andere die voorloper van Wennie du Plessis geld nagelaat het.

 

Privaat onderwys deur goewernantes soos by die Vickermans en ‘n Hollander en ‘n Duitser op Eerste Rus by Theunis Kotze snr. het ook voorgekom.

 

Wat nou volg is dus net stukkies en brokkies uit Willemien se onderhoude in die vroeë 80’jare.

 

Bennie van Staden en sy suster Martjie Goosen vertel dat die eerste skooltjies sommer ‘n (1) klipgeboutjie was wat as skool en kerk diens gedoen het. Die Van Staden kinders het vier myl van Godabis (Hugo Lemcke se plaas) af geloop na die D’KAR skool. Bennie se enigste skoolgang was by Ds. Conradie en heelwat later by ‘n Mnr. Coetzee. Laasgenoemde het na 9 maande vertrek! (Op Kgoutsa was daar ‘n Mnr. De Villiers gewees.) Soms is wa-en-osse ingespan om die kinders te vervoer.

 

Bennie vertel dat Ellen Labuschagne die eerste onderwysers was, seker heelwat later. (2) Ene Petoors het 5 kinders gehad en getrek van Serowe af na Maun. Toe huur hy die Labuschagne meisie van Gobabis se wêreld om vir sy kinders op Maun skool te hou. Later wou sy teruggaan, toe oorreed Bennie haar om op Ghanzi te gaan skoolhou. Sy was onder andere Edmond Gower se onderwyseres gewees.

 

Na Lehututu het Jan Burger 14 jaar op Rietbokpan gebly, 5 myl van Christiaan Lewis se (3) plaas by Kgoutsa. Sy kinders moes elke dag heen-en-weer by die skool kom en vertel dat Lenie Lewis baie goed was vir hulle en kos gegee het. Die skool was eintlik op die Lewis plaas gewees.

 

Lettie (Burger) van Heerden se onderwyser by die Kgoutsa skool was mnr. D.F. du Toit (4) gewees. Sy en die ander kinders was maar bang dat die donkies hulle sou afgooi en party dae het dit gereën. Kinders wat hulself bewusteloos geval het moes maar self bykom. Sy sê hulle het vir Edmond Gower (5) geleer donkie ry! Kotie, Grieta en Theuns het later op Godabis skoolgegaan (D’KAR).  Lettie sê hulle was so arm gewees dat hulle ander mense se donkies gery het! Na Mnr. Du Toit het ‘n Mnr. Weideman vir hulle skoolgehou by Kgoutsa!

 

Lettie vertel dat hulle soms bondels strykgoed moes saamvat huistoe, dit in die nag (6) stryk en die oggend weer na tant Lenie Lewis se huis dra. Hulle is nie betaal nie, “ons help nou maar”, seker in ruil vir die kos smiddae.

 

Die skole het normaalweg kwartale gehad, pouses en vakansies. Die onderwyser moes maar die paar kinders in standers opdeel en help. Saam met Lettie was daar Grieta Lewis. Lemcke, en haar suster Annie (later Watcham), ‘n Pretoruis wat Ghanzi verlaat het en die Gowers.  Laasgenoemde het “huistoe gekom” na hul pa Terry se dood.

 

Die Mej. Labuschagne van wie Bennie van Staden vertel het, het op D’KAR skoolgehou (7) en was kwaai.  Cassie vertel dat Paul Kotze vir haar ‘n plak gemaak het van ‘n halwe rou stuk sool. Sy het Edmond eenmaal so geslaan dat sy lyf oortrek was van blou kolle. Cassie was 10jaar ouer as Edmond en het ‘n groot rusie veroorsaak omdat hy die plak verbrand het en die juffrou uitgetrap het oor haar kindermishandeling.

 

Cassie het op Kgoutsa by ‘n ander juffrou Vermeulen skoolgegaan. Die Mej. Vermeulen (8) het hom vir 3 maande onderrig. Koos Lewis, Fanie Lewis se broer, het haar eendag groot laat skrik. Tydens pouse het Koos op ‘n balk geklim reg bokant haar stoel. Toe sy na pouse vir hom soek, weet niemand waar Koos was nie! Maar hulle konnie aan die werk kom nie ……….., almal dik van die lag. Meteens spring Koos woeps langs (9) haar af.  Sy skrik so dat blou en rooi ink orals gespat het. Almal moes pak kry. Cassie se broer het elke keer sy hand weggeruk, met die gevolg dat sy haarself oor die been geslaan het!

 

Cassie was ‘n paar maande op Kgoutsa by mnr. Kallie Coetzee op skool, wat ook by D’KAR skoolgehou het.  Hy was meer ‘n jagter as ‘n onderwyser en die seuns kon elke (10) middag met hom veld toe gaan, te perd.  Hy is toe weg na ‘n brief dat sy broer oorlede is.

 

Grieta Lemcke was die jongste van Christiaan se kinders. Sy vertel dat sy nie op ou (11) Kgoutsa skool gegaan het nie, maar op Elandshoek, die plaas agter Albert en Lena Lemcke se plaas. Hulle, die ouers, het Kgoutsa se klippe aangery na Elandshoek en die skooltjie herbou.  Sy onthou mnr. Weideman as haar onderwyser.

 

Maar daar was ook ‘n onderwyser Du Toit gewees. Hy het by Grieta se ouers Chrisjan en Lenie Lewis, geloseer totdat hulle agter gekom het dat hy getroud was. Die ouers het toe vir hom ‘n huis gebou en sy vrou het gekom. Maar hul dogtertjie het by die vrou se ouers (12) agtergebly. Terwyl hulle in Ghanziland was, is ‘n seun Johan gebore. Na ‘n paar jaar was daar huislike moeilikheid en die vrou is weg. Toe het Du Toit nog ‘n paar jaar alleen gebly. Hy was ‘n goeie onderwyser. Dit was ‘n privaatskool en die ouers het vir hom en Weideman salaris betaal. Maar later het die Regering die onderwysers betaal. Grieta se suster Annie (later Watcham) het ook vir ‘n jaar of langer skoolgehou. Boeke en toebehore het die ouers betaal.

 

Karel Weyhe (?) het op D'KAR skoolgehou, maar toe die nuwe skool op Ghanzi oopgemaak het is hy soontoe. Die Regering het op ‘n pond-vir-pond stelsel bygedra, (13) namate die ouers kon betaal. Die ouers het funksies gehou om fondse in te samel.  Oorlede klein Hugo het ook op D'KAR skoolgegaan en by die Weyhes gebly. (Hy het van ‘n bakkie afgeval wat oom Hugo bestuur het en is jonk dood.) Hulle het braaivleis gehou en handwerk verkoop.

 

Karel Weyhe se vrou Elise was Manie Lewis se suster: Sy het selfs ‘n ruk lank alleen skoolgehou op D'KAR terwyl Karel nog verlof afgewerk het in Suidwes Afrika. Daar was ‘n lang klipgebou op D'KARwat as skool gebruik is. Van die ander kinders, soos Joop Lewis, het langsaan gebly en vir hulself gesorg. Karel Weyhe se pa was in Angola, en seker reeds jare dood. Sy ma was familie van die (14) Meyers duskant Gobabis.

 

Die D'KAR-skool is gesluit toe die skool op Ghanzi gereed was. Die boere-ouers het vir die skool beeste en goed geskenk. Toe die skool later sommer oornag deur die Regering oorgeneem is, het al die ouers hul kinders Gobabis toe gestuur. Die ouers kon egter die (15) beeste terug kry, en met die beeste se geld wou die ouers ‘n bus koop om hul kinders Gobabis toe te vervoer. Die Regering wou dit nie toelaat nie. Enige geld moes vir skooldoeleindes in Botswana aangewend word. Net die rente kon gebruik word.

 

Die kapitaal was R5 000.00 en die rente is dus min. Dit word aan behoeftige kinders geleen.  Hugo is op die Beurskomitee.  Hulle help in 1980 vir Jan Heymans se seun, ‘n kleurlingkind wat goed vorder. Daar is ook ‘n kleurlingkind van Willem wat by Dick Eaton boor.  Hulle kry elkeen R190.00 en Annie Lambert Vorster se Stephen kry R200. Die leen geld het skenkgeld geword, en Hugo, Manie Lewis en Dick Eaton plus die Magistraat dien op die Kommitee. Maganu was toe die D.C. en was bereid dat Annie Lambert iets kry, “want dis tog die blankes se geld………”  

 

(16) Grieta Lemcke het bevestig dat haar ma, Lenie Lewis, vir die Burgerkinders kos gegee het. Soggens is hulle te vroeg weg om die 5-7 myl skool toe te loop. Pouse het Lenie Lewis vir hulle, en ander kinders, broodjies gegee. Smiddae, voor hulle huistoe gegaan het, het sy vir hulle kos gegee, soos ‘n pot groenmielies bv. (Dalk was die 5-7 myl die heen-en-weer afstande?)

 

Thys Taljaard het vertel van hul skooldae op Dekar, en hoe hulle kwaad gedoen en pak (17) gekry het. Sy pa se opvoeding van agt kinders was seker tipies van die tye en omstandighede. Sy ma het haar plat hand en ‘n skoen gebruik en ‘n plak het deur die dag so gedreun dat hulle daaraan gewoond geword het. Maar vir sy pa was hulle bang. Hy was lief vir sy kinders, maar as hulle kwaad gedoen het, het hy ‘n pak gegee wat hulle kon onthou. Die skuldige moes op sy pens lê en dan slaan hy met ‘n strop oor hul “stere”. Dit was vir Thys ‘n groot vernedering om op sy pens te lê en pak kry!

 

Saamgestel deur Laurika (Pollie) Jerling uit onderhoude met:

 ​

(1)  (A II 3)    Bennie van Staden en Martjie Goosen   

(2)  (A II 3)    Bennie van Staden en Martjie Goosen

(3)  (C II 2)    Jan Burger

(4)  (J I 2)      Lettie van Heerden nee Burger

(5)  (J I 3)      Cassie en Lettie Van Heerden

(6)  (J I 3)      Cassie en Lettie Van Heerden

(7)  (J I 5)      Cassie van Heerden

(8)  (J I 5)      Cassie van Heerden

(9)  (J I 6)      Cassie van Heerden

(10) (J I 6)     Cassie van Heerden

(11) (Q I 2-5)  Grieta Lemcke

(12) (Q I 3-4)  Grieta Lemcke

(13) ( Q I 4)    Hugo en Grieta Lemcke

(14) (Q I 5)     Hugo en Grieta Lemcke

(15) (Q I 6)     Hugo en Grieta Lemcke

(16) (S I 12)    Grieta Lemcke

(17) (X II 4)    Thys Taljaard

Ander Ghanzi
webblaaie
bottom of page